Dawie van der Schyff gee raad oor krulhare

Deel hierdie storie / Share this story

Waar begin ’n mens? Hoe tem ‘n mens jou bos krulle? Oor jare se ondervinding het ek gesien en geleer die persoon wat weet hoe om met krulhare te werk, is die persoon wat self ’n lekker bos krulle het! Hier is ’n paar wenke om jou krulle te hanteer.

  • Moenie karring aan jou krulle nie.
  • Krulle soek net vog (geen proteïene nie).
  • Kry ’n goeie opknapper.
  • Gebruik ’n groottand kam.
  • Moenie te veel hitte gebruik nie (winddroog maak is amper te veel).
  • Krulhare moet een tot drie keer per week gewas word. Jy kan ook een keer was, een keer net opknapper aanwend en dan weer die derde keer met ’n verhelderende- (clarifying) shampoo was om die opbou van produkte te voorkom.
  • As jou hare te droog voorkom, is dit ’n teken dat jy dit minder gereeld moet was.
  • Was jou hare eerder met koue water in plaas van warm water. Dit sal jou krulle meer gedefinieerd laat en kroes (frizziness) voorkom.
  • Gebruik eers ‘n opknapper (conditioner) op jou hare voordat jy dit was.
  • Gebruik gereeld ’n behandeling wat vogtigheid in jou hare terugsit.
  • Gebruik ’n handdoek van mikrovesel om jou hare mee af te droog.
  • Kam jou krulle van onder af uit.
  • Gebruik ook stileringsprodukte wat jou hare bevogtig en jou krulle definieer.

Hier verduidelik Carli, een van Dawie se kliënte, hoe Dawie se raad haar help.

Met krulle is dit elke dag ’n raaisel. Wat ek agtergekom het, is dat die volgende vir my werk: Wanneer ek hare was, gebruik ek ’n klein bietjie sjampoe waarmee ek slegs my kopvel was. Daarna spoel ek af en sit ’n klomp opknapper aan van die haarwortels tot by die punte. Na so ’n rukkie spoel ek als af en sit dan weer so 10 ml opknapper op my hare, scrunch dit en dan is ek reg om te gaan! Winddroog (air dry) is my beste vriend, maar die weer speel soms ’n baie sterk rol in hoe mooi my hare krul. Ek besit nie ’n borsel nie en kam slegs my hare met my vingers in die stort.