Dis verskriklik hartseer om na ‘n dierehawe te gaan en al die diere te sien wat op soek is na ‘n liefdevolle huis. Nova se storie is een van hoop. Nova het geen ander lewe geken as die een wat sy in New Beginnings, ‘n veilige hawe vir diere, geken het nie. Emain Fourie, die stigter van New Beginnings, sê Nova is gered tydens ‘n reddingsveldtog wat hulle in ‘n informele nedersetting gehad het. “Nova was twee maande oud toe sy na New Beginnings toe gekom het en sy het reeds ‘n leeftyd se wreedheid ervaar.”
Emain sê ‘n paartjie wat ‘n hond met die naam Pluto in 2020 aangeneem het, het hulle geskakel toe hulle nog ‘n hondekind wou aanneem. Die familie het ‘n lysie van versoeke gehad van wat hulle in die hond wil hê. Emain sê sy en haar personeel het Pluto se persoonlikheid goed geken en het geweet Pluto en Nova sou goed oor die weg kom.
Nova is toe uiteindelik na nege maande in die skuiling aangeneem.
“Ons wens dat almal so oopkop kon wees as hulle ‘n hond aanneem. Daar is soveel meer aan ‘n hond as wat op die oog val, sy ouderdom of watse soort hond dit is.”
Ons het soveel diere in die New Beginnings Rescue Centre, wat almal desperaat vir hul eie huise wag. Op ons Facebook-blad kan julle deur ons album blaai om al die gesiggies te sien en meer te lees oor hul pragtige persoonlikhede.”
“Wanneer jy ‘n hond uit ons skuiling aanneem, red jy die lewe van die hond, maar jy maak ook plek vir die redding van ‘n ander hond.”
Rozanne Raath sê sy en haar gesin het besluit om nog ‘n hondjie aan te neem vir hulle ander seun. “Wat lekker is van New Beginnings is dat hulle hulle diere baie goed ken. Die eerste hondjie wat ons aangeneem het, was vir ‘n seuntjie wat vreeslik rof speel. Ons het dit vir New Beginnings gesê en hulle het ons gehelp om die hond met die beste persoonlikheid te kry om by daai seun te speel.”
Nova aan die ander kant was vir ‘n seuntjie wat baie saggeaard is, maar tog hou daarvan om te speel. Sy is nog net twee dae hier, maar pas so mooi aan by ons.”
Rozanne sê daar is soveel dankbaarheid in hierdie honde se oë en sy kan New Beginings vir enigiemand aanbeveel.



