Skok en afgryse na kleuter in rioolwater verdrink

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vissersgemeenskap is geskok en in rou gedompel na ‘n driejarige kleuter verdrink het.

Liam Cloete (3) van Port Nolloth het Dinsdag vermis geraak nadat hy naby riooldamme in die Sizamele-township gespeel het.

Sy ma moes later hulp by die polisie gaan soek.Sy liggaampie is eers
Woensdag deur ‘n ondersoekspan ontdek.

Renique de Wee, polisiewoordvoerder, sê daar is aanvanklik Dinsdag ‘n klag van ‘n vermiste persoon ontvang. Luidens dié klag was die kleuter vermis na hy vroeër by die riooldamme in die Sizamele-township, by Port Nolloth, gespeel het.

“Volgens Liam se ma het hy eers in die straat naby die huis gespeel,” vertel De Wee. “Hierna het hy kom water drink en verder gaan speel. Toe hy na ‘n lang tyd nie teruggekeer het nie, het hulle na hom begin soek.”

Die inwoners het onthou dat hulle hom met ‘n oranje T-hemp en
rooi broekie by die damme gesien speel het. Aanvanklik het die Richtersveld-munisipaliteit begin om die damme te probeer leegtrek. Hulle kon egter niks kry nie.

Die hulp van ‘n seereddingsondersoekspan van Upington en Kimberley is ingeroep. “Woensdagmiddag het hulle op sy liggaampie in die damme afgekom,” sê De Wee.

‘n Ingeligte na aan die ondersoekspan het anoniem gesê dat Liam en twee kleutertjies (ook drie jaar oud) saam met hom naby die riooldamme gespeel het.

“Die tweetjies het ons vertel dat ‘Liam in die rioolwater is,’ toe ons hulle konfronteer,” vertel die bron. “Hierna het hulle ons gaan wys waar hy in die damme geval het.”

Geskokte inwoners hier het vertel dat die riooldamme nie omhein is nie. Hulle is ook nie seker of hierdie tragedie die eerste voorval daar is nie.

Die Richtersveld-munisipaliteit kon na vele pogings nie vir kommentaar bereik word nie.

Op die oomblik word geen gemene spel vermoed nie. De Wee sê die polisie doen egter ‘n geregtelike ondersoek na die kind se dood.