Russiese kleuter dwaal vir vier dae alleen in woud rond

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Dogtertjie van 22 maande oud wat vir vier dae alleen in ‘n Russiese woud rondgedwaal het, het belowe om nie weer weg te loop nie.

Lyuda Kuzina het naby haar huis in die Smolensk-streek in Rusland tot in die woud weggeloop en honderde mense het vir vier dae lank na haar gesoek.

Sy het in dié vier dae geen kos of water gehad nie en was oortrek met insekbyte na een van die mense wat na haar op soek was, haar gehoor geluide maak het.

“Sy het belowe dat sy nooit weer sal wegloop nie,” vertel haar ma. “Hoe lank sy daardie belofte sal hou, weet ek egter nie. Maar ten minste sê sy so.”

Die dogtertjie word tans by die Smolensk-kinderhospitaal behandel.

Die soektog het begin na die dogtertjie verlede Dinsdag buite die gesin se somerhuis in die Tyomkinsky-omgewing gespeel het en toe weggeloop het toe haar ma by die bure gaan kuier het.

Vierhonderd vrywilligers en die polisie het die area begin fynkam. Duikers het nabye reservoirs deursoek, maar tevergeefs. ’n Soekgroep het vir ’n rukkie gestop om te rus toe hulle haar hoor.