Regering trek skouers op oor R139 miljoen se bedrog

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die regering het die week skouers opgetrek na dr. Dion Garvey Theys (54) en Mosimanagape Daniel Gaborone (52), waarnemende hoof en finansiële hoof van die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, Maandag op aanklagte van bedrog in hegtenis geneem is.

Daar word beweer dat hulle gedurende die jaar 2020 kontrakte van persoonlike beskermende toerusting (PPE’s) aan twee ondernemings toegeken het sonder om voorgeskrewe verkrygingsprosedures te volg. Die totale koste hiervan beloop R43 miljoen.

Theys het nog ’n saak teen hom wat volgende maand in die hof sal voortgaan. Die aanklagte het betrekking op huurooreenkomste vir verblyf vir verpleegstudente, ter waarde van R96 miljoen, wat in 2014 met die JP Hugo -koshuis gesluit is.

Beide Theys en Gaborone is op borgtog van R20 000 elk vrygelaat en die saak is tot 27 September 2021 uitgestel.

By navraag aan die premierskantoor, departement van gesondheid en die provinsiale sekretaris van die Demokratiese Verpleegorganisasie, oor of dié twee persone nog in hulle poste is, het die premierskantoor die navrae na die departement verwys. Lebogang Majaha, woordvoerder van die departement van gesondheid, het nie geantwoord of Theys en Gaborone nog by die werk is nie.

LEES OOK: NC department of health rife with fraud allegations as HOD in court again