Van Latinix, Pilates, Zumba, Strong Nation, Pound, BounceFit, Core-Fit tot by Pole Power & Airtistix, is alles wat Cat van der Merwe by haar dansateljee, Dancesation, in Bloemfontein aanbied.
Cat (37) is al vir amper 13 jaar met haar man, Hardie, getroud en saam het hulle drie viervoetige kinders sowel as een wonderwerk babadogtertjie van nege maande.
Cat vertel Dancesation het in 2008 begin toe sy die aanvraag vir ’n dansateljee vir die “average Joe”, mense wat nie noodwendig aan kompetisies en eksamens wil deelneem nie, maar dit wil doen vir die lekkerte daarvan, raakgesien het.
“Nie almal is gebore met ’n natuurlike talent en ritme vir dans nie. Baie mense wil graag die geleentheid gegun word vir dans op ’n sosiale vlak. Daai tyd was daar nie ’n dansskool in Bloemfontein wat grootliks gefokus het op sosiale danse nie en het ons ’n gaping in die mark gesien.”
Hulle het eers begin as ’n sosiale Latin and ballroom-dansskool wat ook gefokus het op line dancing, maar dit het vinnig in ’n sokkie-studio ontplof.
“Want as jy in die Vrystaat bly, moet jy kan sokkie,” lag Cat.
“Stelselmatig het die sosiale Latin, ballroom en line dance kant van die studio al hoe kleiner geword met die jare en die sokkie-klasse vir troupaartjies, matrieks en sommer net enige Jan Rap en sy maat wat wil leer dans, het gegroei tot die punt waar ons toe in 2014 die bekende Ons Love Sokkie-DVD vrygestel het wat paartjies in die gemak van hulle eie huis leer om te sokkie, two-step en wals.”
In 2009 het Cat egter baie gëinteresseerd geraak in dansfiksheid sowel as gewone fiksheid en so het die Fun Fitness-gedeelte van die studio ontstaan.
“Ons het ook daardie jaar met die Flirty Fitness-gedeelte van die studio begin waar ons paaldans asook chair dance begin aanbied het in privaat klas-formaat vir vrouens wat wil sterk word op ‘n prettige en ‘sexy’ manier. Ons fokus spesifiek op privaat klasse vir paaldans en chair dance om dames die geleentheid te gee om in die gemak van privaatheid hul eie kragte te ontdek, sonder om te voel hul word geoordeel oor hoe sterk hul is of nie, hoe hul lyk en hoe hul dans.”
Alhoewel meeste van hulle kliënte vroue is, is hulle nie ’n studio eksklusief vir vroue nie en mans is ook welkom.
Cat sê energie, motivering en positiwiteit is vir haar ’n daaglikse uitdaging.
“In die bedryf waarin ek is, het jy fisies die energie nodig om die hoeveelheid klasse volspoed te kan aanbied. Of jy nou min geslaap het of nie, as jy voor daai klas staan, moet jy letterlik energie uitstraal. Ons kliënte stap baiekeer moeg, ongelukkig, ongemotiveerd, afgehaal of selfs hartseer by die studio in. Elkeen het maar sy eie las wat hy dra. Dis moeilik om altyd positief te bly in die tye waarin ons vandag leef. As instruktrise is dit deel van my werk om my kliënte te oorval met positiwiteit, om hulle op te help wanneer hul gemoed dalk bietjie af is. Mens moet die goeie in alles soek sodat jy die positiewe kan oordra aan jou medemens, selfs al het jy ook dalk nie ’n lekker dag gehad nie. Maar ek moet sê, in ruil help die kliënte op ’n daaglikse basis weer vir my om ook positief te bly.”
Sy glo ook vrouens is tot enigiets in staat.
“God het ons vroulike geslag geskape as Warriors-in-Prayer! Ons is dalk die fynere en beeldskone geslag, maar ons maak op daarvoor in geaardheid, deursettingsvermoë en bereidwilligheid om aan te hou tot ons wen!”
Sy gaan voort om te sê daar is steeds ’n stigma oor paaldans.
“Ongelukkig is daar nog steeds ’n stigma aan paaldans, dat dit ‘n ‘stripper’-ding is. (I know, 2021 en sommige mense is nog steeds so narrow minded daaroor). So eerstens, om ‘n paaldanser te wees, moet jy weet jy gaan kritiek kry. Jy moet gereed wees dat slegte kommentaar soos water van ’n eend se rug moet afloop – jy moet selfversekerd wees in wat jy doen en trots wees op jou fiksheid en krag wat verbeter elke keer as jy om daardie paal spin. Jy moet selfs trots wees op elke blou kol wat jy kry as gevolg van daardie paal.”
Haar raad aan ander vroue:
“Daag jouself uit. Verbeter jouself. Bemagtig jouself. If it scares you, GOOD, then you know you need to tackle it in order to overcome that fear and improve! Elke vrou het ’n ‘klein ballerinahartjie’ binne-in haar wat wil dans. Kom leef daardie droom van dans uit op ons dansvloer, op ’n prettige ‘skud jou heupe’-manier en vergeet van al jou bekommernisse vir net so ‘n oomblik.”






