Pap band? Ruil dit om in ‘n japtrap

Deel hierdie storie / Share this story

Deesdae staan vrouens se hande vir niks verkeerd nie. Vrouens se hande word ook soms met olie besmeer, veral wanneer sy alleen ry en ewe skielik ‘n pap band het.

Voor jy jouself in so ‘n situasie bevind en nie weet wat om te doen nie, lees hierdie maklike stappe.

  1. Vind ‘n veilige staanplek
    Wanneer jy agterkom jou band is pap, moenie in die pad stilhou nie. Verminder jou spoed en kyk rondom jou vir staanplek waar die oppervlakte gelyk is. Trek die handrem op en sit die motor in rat.
  2. Skakel noodligte aan
    Wanneer jy stilhou, skakel dadelik jou noodligte (hazards) aan sodat ander voertuie bewus is van die stilstaande motor.
  3. Verwyder die wieldop
    As jou voertuig ‘n wieldop het wat die wielmoere bedek, verwyder dit. Gebruik die plat punt van jou moersleutel om die wieldop te verwyder.
  4. Maak die wielmoere los
    Draai die wielmoere met die moersleutel linksom totdat jy die weerstand breek. Indien dit baie stewig vasgedraai is, gebruik jou voet om op die moersleutel te trap. Maak dit net effens los. Moenie dit heeltemal verwyder nie.
  5. Plaas die domkrag onder die voertuig
    Die regte plek vir die domkrag is gewoonlik onder die voertuigraam langs die band wat pap is. Baie voertuigrame het plastiek aan die onderkant gevorm met ‘n oop oppervlak van blootgestelde metaal, spesifiek vir die domkrag.
  6. Lig die voertuig met die domkrag op
    Wanneer die domkrag reg geplaas is, lig die voertuig totdat die pap band ongeveer ses sentimeter bo die grond is.
  7. Verwyder die wielmoere
    Die wielmoere wat reeds losgemaak is, kan nou verwyder word. Hou dit op ‘n veilige plek.
  8. Verwyder die pap band
    Verwyder dit deur dit saggies na jou toe te wikkel totdat dit heeltemal los is van die motor. Sit die band op sy sy sodat dit nie wegrol nie.
  9. Kry die spaarband
    Plaas nou die wiel op die wieldrom en sorg dat die boudgate ooreenstem. Druk liggies totdat die boute deur die rand verskyn.
  10. Sit die wielmoere terug
    Sit die wielmoere terug en draai dit lossies vas met jou hande. Moenie nou al die moersleutel gebruik nie.
  11. Bring die motor terug op die oppervlak
    Wanneer jy die domkrag gebruik het om die motor terug op die oppervlak te bring, draai nou die wielmoere stewig met die moersleutel vas.
  12. Sit die wieldop terug
    Wanneer jy klaar is, sit die wieldop weer terug op die wiel. As dit nie op die spaarband pas nie, bêre dit saam met die pap band.