Shannon Botha (26) en Christiaan (Muis) Meyer (27) is nie net jou gewone verloofde paartjie nie. Die twee besit saam ’n oefengimnasium met ’n verskil. Dit is ‘n EMS-gimnasium waar elektriese spierstimulasie toegepas word. Nie net is hulle besigheid enig in sy soort in die Noord-Kaap nie, maar jy kan meer as 500 kalorieë in een 20 minute sessie verbrand.
Albei kom van Gauteng
Albei kom oorspronklik van Gauteng af en het na Kimberley verhuis sodat Christiaan vir Griekwas kon rugby speel. Hy het aan die einde van 2015 by Griekwas aangesluit en Shannon het, soos sy dit noem, agter liefde aan getrek.
Christiaan het egter laasjaar uit sy rugbyloopbaan afgetree en die twee het Legacy Evolution saam begin.
Shannon het ook in haar dae netbal gespeel, maar moes die droom opgee nadat sy kruisligamente in haar been geskeur het. Sy het egter ’n loopbaan in persoonlike afrigting begin.
“Ons het bietjie gaan navorsing doen en ’n gaping in die mark gesien. EMS is ook groot in Gauteng en was baie populêr op TV.”
Nie die gewone
Wat die oefening verskillend maak as die gewone waaraan meeste mense gewoond is, is die oorpak wat jy tydens jou oefensessie aantrek. Dit is ’n derdegenerasie- draadlose oorpak wat ’n polsing deur elke spier in jou liggaam stuur. Jou spiere trek dan elke paar sekondes saam. Sodoende kan jy ’n 90 minute oefensessie in 20 minute bereik.
Die oorpak kan met enige tipe oefening gedra word, maar hulle bied hoë intensiteit oefening daarmee saam.
“Die tipe oefening is baie goed vir mense wat min tyd het. Dit is ook baie goed vir mense wat gesondheidsprobleme soos swak knieë het. Ongelukkig kan mense wat pasaangeërs het, nie die oorpak aantrek nie. Daar is geen newe-effekte van met die pak oefen nie.”
Die oefening word ook een-tot-een gedoen en kan op die pas en gesondheidsvlak van die betrokke persoon gedoen word.










