KIMBERLEY. – Cobus Els, geliefde en bekende inwoner van Kimberley en eienaar van Tyres 360, is vanoggend kort voor 02:00 by sy huis oorlede.
Samantha Ellison, Els se lewensmaat, sê hy is weens hartversaking oorlede.
“Sy been is verlede jaar geamputeer as gevolg van swak bloedtoevoer. Die pyn het vir hom ondraaglik geraak en die dokters het besluit dat dit beter is om sy been te amputeer. Hy is toe vanoggend weens hartversaking oorlede.”
Els was vir drie jaar die eienaar van Tyres360 in Kimberley.
Medelye stroom sedert vroeg Sondagoggend in op Facebook.
“Dis bitter slegte nuus. Daar sal vir seker ‘n leemte in Kimberley wees. Rus sag, Cobus. Weet net jy het baie beteken vir baie mense. My hart is so rou vandag. Jy sal gemis word,” lui een inskrywing op sy blad.
“Rus in vrede aan ‘n groot Bloubul-man met ‘n groot hart,” skryf nog iemand.



