Prieska-gemeente word gestig op 11 Maart 1878. Die eerste samekomste van die gemeente is onder bokseile gehou. In 1978 het die gemeente ‘n eeufees-viering en tydens dié geleentheid word ‘n eeufees-gedenkboek uitgegee waarin geskiedenis en kosbaarhede vervat is – Prieska se gister.
Kyk hier regstreeks na die diens vanuit die NGK Prieska.

Die eerste kerkgebou van die gemeente is op Saterdag 8 September 1883 ingewy. Die verrigtinge neem ‘n aanvang met ‘n diens in die kerktent waar die gemeente reeds vir die afgelope vyf jaar aanbid het. Gedurende Julie 1907 se nagmaalsnaweek word besluit om nie die ou kerk te herbou nie, maar om ‘n boufonds te stig vir ‘n nuwe kerk. ‘n Boukommissie besigtig onder meer die nuwe kerk op McGregor en dit word as model aanbeveel. In ‘n ommesientjie is 1 443 skape vir die boufonds gekollekteer. Teen 1914 staan die boufonds reeds op £5268. Die gemeente besluit egter om eers die bou van die nuwe kerk uit te stel weens verskeie redes, o.a. die strawwe droogte van 1911 tot 1916, die dood van die plaaslike predikant, ds. Venter, die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog en die voortvloeiende Rebellie.
Ds. W.J. du Toit word Februarie 1916 bevestig en gee uit die staanspoor aandag aan ‘n nuwe kerkgebou omdat die huidige een veels te beknop was, veral met nagmaalsgeleenthede. Argitek J.E. Vixeboxse se kosteberaming beloop £13600 vir “een gansch nieuwe kerk”, maar die gemeentevergadering besluit op die goedkoper opsie van £11756, siende dat ‘n deel van die ou kerk behou word. ‘n Plaaslike bouer, J.C.L. Oberholster, se tender word verhoog met £1443 na £11393 nadat hy bevind dat die fondasie van die ou kerk te swak is om op te bou. Dit word totaal gesloop en van die bourommel is vandag nog te vind onder die huidige kerk se vloer. Dienste word gedurende dié tyd in die kerksaal gehou.
Die hoeksteen van die huidige kerk word deur ds. W.J. du Toit op 6 Desember 1919 in die teenwoordigheid van “een grote schare” gelê. Die gebou is April 1921 voltooi, maar die inwyding vind eers plaas op Saterdag 20 Augustus 1921 weens die lewering en installering van die orrel, die enjin vir die ligte en die vervaardiging van die rostrum wat sake vertraag het. ‘n Buitengewoon groot skare van tussen 1 500 en 1 600 mense is die naweek teenwoordig vir die inwyding, asook ses besoekende predikante. Die orrel, die ligte en die klok met uurwerk word op verskillende tye
gedurende die naweek ingewy.
Die totale koste van die nuwe kerk beloop £19 362, waarvan £2 038 vir die orrel, £1 477 vir die banke, £1 390 vir die ligte en kragopwekker en £502 vir die toringhorlosie. Iemand wat kon oordeel, het selfs verklaar dat daar in die Noordweste “niet nog zulk ‘n kerkgebouw staat”. Die susters van die gemeente sorg vir die geldinsameling vir die orrel, terwyl die kinders die geld vir die rostrum voorsien.
Verskeie pogings is aangewend om die uitstaande skuld by Standard Bank te vereffen, waaronder ‘n Jubelfees in 1928. In 1931 word ook ‘n aantal waardevolle kerkerwe verkoop. Basaarskape is in daardie depressiejare teen so laag as 3 sjielings stuk verkoop.
Opknappingswerk is verskeie kere gedoen, maar deeglike restourasie vind in 1962 plaas. Die banke is onder andere vervang, asook die plafon en die preekstoel. Die orrel is in 1952 vergroot, in daardie stadium ook beskryf as “een van die kragtigste in die Noordweste.” In 1951 word bevind dat die klok ‘n kraak in het en dit word teruggestuur na Nederland waar dit opgesmelt en oorgegiet word. Dit word weer November 1953 in gebruik geneem en by dieselfde geleentheid word die nuwe 1953-vertaling Kanselbybel geskenk en deur diaken H.G. Human oorhandig.
Die boustyl vertoon baie eenvoudige Renaissance-vorme. Die wit mure met die rooi dak sorg vir “een aangename kleurschakering”. Die toring eindig in “een hoge slanke spits” en is 34 meter hoog.
Die kerk (galery ingesluit) bied ruimte vir ongeveer 1 000 mense. Die sirkelvormige banke is vervaardig deur G.W. Scott van Soutrivier; terwyl G. Cuchet van Kaapstad verantwoordelik was vir die plafon en ander ornamente in die kerk.



