December 7, 2021

Kimberley se glasman en sy spieëls

"Dit bring vir my die meeste vreugde en ek sê daagliks vir die Here baie dankie vir dit wat ek met my hande kan doen."

"Dit bring vir my die meeste vreugde en ek sê daagliks vir die Here baie dankie vir dit wat ek met my hande kan doen." (Foto: Marcellus)

Marcellus Koopman (36) is ‘n Kimberley-man met ‘n gegewe talent. Marcellus het op die ouderdom van 20 sy eerste ervaring van glas gekry toe hy by ‘n glaswinkel begin werk het. “Dit is daar waar ek my eerste ervaring met glas en spieëls gehad het, geleer het hoe om dit te meet, te sny en te installeer. Ek het nie eers geweet wat ‘n glassnyer (cutter) is en hoe om dit te gebruik nie. Die grootmanne het my maar hulle gebruikte snyers gegee om mee te oefen.”

“Terwyl ons agter die winkel gesit het waar ons vir die volgende werk gewag het, het ek my tussen die rommel (weggooiglas) bevind. Daar het ek stukkies gekleurde glas en stukke spieel uitgekrap. Ek het toe daaruit my eerste spieëlkunswerk gemaak. Dit was iets baie anders as wat ek tans maak, maar dit was die begin van Die Glasman en sy Spieëls.”

Foto: Marcellus

Marcellus sê die lekkerste gedeelte van sy werk is om terug te sit en die eindproduk te aanskou. “Dit bring vir my die meeste vreugde en ek sê daagliks vir die Here baie dankie vir dit wat ek met my hande kan doen.”

Marcellus vertel hy maak gewoonlik die spieëls deur eerste op ‘n stuk papier, gewoonlik ‘n rekeningkoevert, sy ontwerp te teken. Daarna sal hy dit vergroot en oorteken op die spieël. “Wanneer ek dan tevrede is met die ontwerp, sal ek dit vergroot en op ‘n spieël oorteken met ‘n Artline-pen met ‘n baie dun punt (725) en ‘n liniaal. Dan sny ek ‘n stuk glas so effens groter as die spieël, dit is dan die oppervlak waarop ek die stukkies spieël een vir een plak wat gesny is volgens die ontwerp.”

Marcellus sê die moeilikste gedeelte van sy werk is om die klein stukkies glas te sny en dit dan te plak. Dit vereis baie konsentrasie en geduld. “Anders as ‘n mosaïekspieël waar ‘n mens verskillende stukkies spieël bymekaar kan sit, sny ek die volledige patroon uit een stuk spieël. Indien ‘n stuk of stukkie verkeerd breek, moet ek die hele spieël dan wegmaak, want dit kan eenvoudig net nie weer vervang word met n ander stuk nie.”

“Elke lyn breek op so ‘n manier dat die twee of meer stukke net mooi weer langs mekaar pas. Enigiets anders sal die hele ontwerp bederf.”

Die gedeelte van Marcellus se werk waarvan hy die minste hou, is om spieëls skoon te maak nog voor dat hy aan hulle begin werk. Hy sê hy moet verseker dat daar geen krapmerke op die spieëls voorkom nie. Tog sê hy is dit alles die moeite werd wanneer hy ‘n spieël klaargemaak het.

“Ek vind dat baie mense die kunsvorm wat ek met spieëls doen, misverstaan, omdat hulle nie hulself in sommige van die ontwerpe kan sien nie, maar dis hoe ek dit ontwerp. I am an artist and the mirror is my canvas, soos ek baie keer moet verduidelik.

Marcellus sê hy wil aan ander mense met sulke gegewe talente sê: “Ons verwyder die lelik van die lewe met die mooi, hou aan sny en laat dit blink!”

Foto: Marcellus

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *