Regstappe teen departement as vakansie geskrap word  

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit het vandag aangekondig dat sy regspan die moontlikheid van litigasie teen die departement van basiese onderwys (DBO) ondersoek. Dit volg nadat die departement aangekondig het dat hy van mening is dat die Oktober-skoolvakansie vir 2021 geskrap moet word.
 
In ʼn brief aan die minister van basiese onderwys, Angie Motsheka, het Solidariteit sy teenkanting teen dié wysiging van die skoolkalender uitgespreek. Volgens hom is die optrede van die departement irrasioneel en die implementering van sodanige wysiging onbillik en teenstrydig met die nasionale beleid ten opsigte van die opstel van skoolkalenders.
 
“Dit is die plig van die minister en die departement om met belanghebbendes te kommunikeer voordat enige besluite geneem word. Tans is die DBO besig om spore van eensydige optrede dood te vee deur kwansuis te konsulteer nadat hulle reeds hul voornemens duidelik gemaak het. Hulle kies verder om slegs een regulasie in ag te neem terwyl hulle ʼn aantal ander ontken deur voort te stoomroller met hul planne, en dit ten koste van die welstand van beide leerders en onderwysers,” sê Johan Botha, adjunk-hoofsekretaris van die professionele sektor by Solidariteit.
 
Solidariteit voer aan dat die departement besig is om die kalender van vier kwartale te wysig na drie termyne waarvan die laaste termyn dubbel die aantal weke bevat. Hy is van mening dat die DBO ook nie sy eie beleid waarin hy stipuleer dat leerders en onderwysers genoegsame tyd gegun moet word om te rus, in ag neem nie.

“Hierdie optrede van die departement kan as niks anders as uitbuiting beskryf word nie. Daar word van onderwysers verwag om 21 weke aaneen aan diens te wees met slegs ʼn kort onderbreking in die vorm van ʼn verlengde langnaweek as troosprys. Dit strook egter nie met die regulasies nie. Hierdie optrede sal die prestasie van sowel die onderwyser as die leerders in die vierde kwartaal negatief beïnvloed,” voer Botha aan.

Volgens Botha sal die leerders en onderwysers daarby baat as die departement eerder die datum van indiening van finale punte aanpas sodat die laaste twee weke van die skoolkalender ten volle benut kan word deur skole wat die tyd benodig om agterstande in te haal.
 
“Ons is van mening dat dit veel wensliker sal wees om kontaktyd binne die huidige kalender tot die maksimum te benut. Ons onderwysers en hul leerders het die afgelope jaar hard gewerk om die verskeie uitdagings van die Covid-19-pandemie te oorkom. Ons kan nie toelaat dat hulle van ʼn laaste behoorlike ruskans voor die eindeksamen ontneem word nie. Solidariteit is reeds besig om moontlike regstappe te ondersoek en sal nie skroom om daarmee voort te gaan indien die departement nie gehoor gee aan ons versoek nie,” sluit Botha af.