GAUTENG. – Groot bekommernis heers nadat dit bekend gemaak is dat Gauteng 23,226 tienerswangerskappe gehad het tussen April 2020 en Maart 2021. Die getalle sluit meisies tussen die ouderdom van 10 en 19 in.
Volgens Nomathemba Mokgethi, LUR van gesondheid in Gauteng, het meisies tussen die ouderdom van 10 en 14 aan 934 babas geboorte gegee. Meisies tussen die ouderdom van 15 en 19 het aan 19 000 babas geboorte gegee in hierdie tydperk. Dit is ook bevestig dat 3 000 meisies tussen die ouderdom van 10 en 19 het besluit om hul swangerkappe te beëindig.
Hierdie tienerswangerskapgetalle is deur die Gautengse LUR, Nomathemba Mokgethi, onthul in ‘n skriftelike antwoord op vrae wat deur Refiloe Nt’sekhe, die woordvoerder van die DA vir sosiale ontwikkeling, gevra is.
Nt’sekhe sê die getalle toon dat die Gautengse departemente van onderwys, sosiale ontwikkeling en gesondheid dringend hulle veldtogte vir swangerskap en seksuele opvoeding sal moet versterk.
Mokgethi sê haar departement is nie in besit van enige profiele van die vaders van hierdie babas nie. Gevalle van statutêre verkragting is by die departement van maatskaplike ontwikkeling en die polisie aangemeld. “Daar is geen statistieke wat spesifiek versamel is oor statutêre verkragting deur die departement van gesondheid nie. Die sake word by die SAPD aangemeld en arrestasies bly hul mandaat,” het Mokgethi gesê.
Gauteng se departemente gaan hul veldtogte om tienerswangerskappe te bekamp, moet versterk
Nt’sekhe sê: “Tienerswangerskap bly ‘n ernstige sosiale en gesondheidsprobleem in SA. Dit hou ‘n gesondheidsrisiko in vir beide die moeder en die kind, en dit het ook sosiale gevolge, soos die voortgesette siklus van armoede en vroeë skoolverlies.”
Daar word ‘n beroep op ouers en voogde, sowel as verskillende belanghebbendes, gedoen om saam met staatsdepartemente te werk om tienerswangerskap te bekamp.
“Tienermeisies moet geleer word oor die gevolge van tienerswangerskap en voorkomende maatreëls om dit te bekamp. Wat meisies onder die ouderdom van toestemming betref, moet hulle ook hul regte in hierdie verband geleer word en weet dat niemand hulle op enige stadium daartoe mag dwing nie.”
“Die toekoms van ons meisies kan gered word deur gedragsverandering met die korrekte kennis en leiding van die provinsiale regering,” het Nt’sekhe gesê.
Lees ook: Kyk jou baba televisie?



