KIMBERLEY. – Die minderjarige moordverdagte in die Keith Vermeulen-saak sal vanaf môre tuisonderrig ontvang.
Die gr.9-leerling is vir die derde kwartaal by ’n bekende hoërskool in die stad ingeskryf. Die skool was onbewus van die saak.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys in die Noord-Kaap, het bevestig die leerling het tot en met vandag skoolgegaan.
Van der Merwe sê die skool het onmiddellik, nadat hy bewus geword het van die saak, die leerling aangeraai om tuisonderrig te ontvang totdat sy saak afgehandel is. Dit volg nadat FiND iT ’n navraag aan die departement van onderwys gerig het.
“Slegs as sy onskuld bewys word, kan hy terugkeer skool toe.”
Keith Vermeulen (40) van Kimberley se liggaam is Sondag 28 Maart 2021 met ’n skietwond in sy kop in ’n veld naby die plaas, Mosesberg, naby Schmidtsdrift, gevind.
Die verdagte is twee dae later, op 30 Maart, in hegtenis geneem. Aanvanklik is vermoed Vermeulen word vermis en toe later dat hy die slagoffer van ’n plaasaanval was.
Die skoolhoof wou nie kommentaar lewer nie. Dit is nie duidelik waarom die skool nie oor die saak ingelig is nie



