SA Satanistiese kerk distansieer hom van Manenberg-katslagting

Deel hierdie storie / Share this story

Die Suid-Afrikaanse Satanistiese Kerk het Maandag gesê hy distansieer hom van die onlangse katslagting wat in Manenberg plaasgevind het.

Minstens 39 geslagte katte is onlangs in dié gemeenskap gevind en sommige mense het die slagtings as “satanisties” afgemaak.

Die kerk het in ‘n verklaring gesê hy ondersteun nie die mishandeling of slagting van diere nie.

Die organisasie se Riaan Swiegelaar sê: “Die algemene publieke oogpunt is ongelukkig dat die rituele slagting van diere aan satanisme gekoppel word.”

Swiegelaar sê hulle bied nou ‘n beloning van R10 000 aan vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisname en skuldigbevinding van die Manenberg-katslagter.

Nadoodse ondersoeke dui daarop dat sommige van die katte ernstig mishandel is voor hulle met ‘n skerp lem oopgesny is. Party van die katte se ribbekaste, harte en longe is uitgeruk.