KIMBERLEY. – “Mens is nooit te oud om te leer nie. Jy kan nie sit en wag vir iets om te gebeur nie, jy moet elke geleentheid aangryp om ekstra lewensvaardighede by te leer.”
Dit is die woorde van Chandre Wlkinson (27), ‘n student aan die Universiteit van Sol Plaatje wat vanjaar haar graad in die kunste (BA) verower. Chandre vertel sy kan nie stil sit nie en hou daarvan om haarself besig te hou.
“Ek het eerste openbare bestuur by ‘n TVET-kollege gestudeer. Daara, terwyl ek gewag het vir my diploma, het ek ook erfenis studeer. In 2018 het ek besluit om my graad in kuns te doen. Daar is baie deure wat sal oopgaan sodra ek my graad het. Baie moontlikhede.”
Chandre sê haar eintlike doel is om ‘n sielkundige te word. Sy vertel entoesiasties hoe sy mense wil help en leer. Onderwys, volgens Chandre, is ook ‘n beroepskeuse wat sy sal oorweeg. Vir eers fokus sy op haar studies en werk hard om goed te presteer.
Om te leer tydens die pandemie
“Aan die begin van die pandemie het ek gedink om van die huis af te leer kan net voordele inhou. Ek het wel later besef daar is soveel meer stres. Ek bly saam met my ouma en twee boeties. My ouma het onlangs ‘n kind verloor en om ander mense rondom jou te sien wat emosioneel ly, is erg. Veral in hierdie tyd. Soms moet jy net jouself regruk en oortuig dat jy alles onder beheer het.”
Alhoewel baie sou dink om ‘n student te wees, veral in hierdie tyd, is stresvol sê Chandre sy voel die mense wat klaar studeer het en elke oggend moet opstaan om hulle geld te verdien, het meer stres. Sy geniet dit om te leer en sien haarself as ‘n persoon wat geleenthede benut soos dit opduik.
Haar raad aan huidige en toekomstige studente is om God eerste te stel. “Jy is nooit te oud om te leer nie. Wees altyd toegewyd.”
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



