Liena van der Merwe, ’n drama-onderwyser, het reeds talle kindertoneelstukke by verskeie nasionale kunstefeeste die lig laat sien. Storiekasteel is haar debuutkinderboek en die voorloper vir karaktertjies wat later op die verhoog gaan verskyn.
Die storieboek beslaan 64 bladsye en is van so ’n aard dat kinders so jonk as vyf jaar oud dit sal geniet wanneer dit voorgelees word, maar selflesers tot so tien jaar oud sal die teks sommer ook baie interessant vind. Dit is ’n prettige en avontuurryke boek met drie hoofstukke getiteld “’n Verjaardagkoek wat beweeg”, “’n Piekniek in die wind” en “Karaoke onder die sterre”. Elke storie word vergesel van ’n liedjie, ’n rympie, ’n lewensles en ’n aktiwiteit. Daar is ook ’n handige woordelys agter in die boek. Met kleurvolle karakters soos die fliepflappers, die poeiermuise, Snoeperdoep Leeu, Talpa Verkleurmannetjie, Baksie Beer en vele ander bied hierdie boek heerlike leesplesier wat kinders meer leer oor vriendskap.
Storiekasteel se agterbladteks lui: “Jy word uitgenooi om in Storiekasteel te kom kuier. Daar is nooit ’n vervelige oomblik in hierdie pragtige kasteel nie. Die vriendelike bewoners en hulle maats beleef vele prettige avonture saam. Eers skrik almal hulle boeglam toe ’n verjaardagkoek beweeg. Dan veroorsaak ’n dwarrelwind chaos op die rivier tydens die jaarlikse piekniek. Boonop wag daar ’n sterrekykaand en ’n opwindende karaokekompetisie op die vrolike karaktertjies.”
Erna van der Merwe, ’n talentvolle illustreerder wat al verskeie kinderboeke geïllustreer het, is verantwoordelik vir die kleurvolle waterverftekeninge.
Uittreksels:
Baksie Beer, die kasteel se sjef, het groot planne. Hy reël ’n partytjie vir Talpa en beplan om die heerlikste gebak op te tower. Sy resepteboeke is klaar oop by heuningvlegsels, wolkskuimpies en gaatjieskoek (1).
Koningin Cavalla wag op die rivier se wal. Botterbollie staan stewig in die water, al flap sy ore soos wasgoed in die wind. Hy stoot die bootjies met sy slurp wal toe waar die koningin die roeiers help om uit te klim. Dit is ’n goeie ding dat almal reddingsbaadjies dra, want dit het hulle veilig gehou (25).
Naledi publiseer Storiekasteel. Skakel Tertia Swart by Naledi by 078 648 8616 of vra jou naaste boekhandelaar om vir jou ’n eksemplaar te bestel. Kontak gerus ook die skrywer by 083 743 1856 vir ’n getekende kopie.
T.w.v. deursigtigheid: Ek het die voorreg gehad om aan die teks te skaaf vóór publikasie.



