Dr. Clive Holroyd (52) sê die eerste keer wat hy geweet het hy wil ’n dokter wees, was toe hy vier jaar oud was en by sy oom, wat ook ’n dokter was, ’n stetoskoop gekry het.
Hy lag en sê hy het altyd gesê hy sal aftree sodra hy een van die babas wat hy gevang het, se babas vang. “Nou is dit al jare later en die mammas kom wys vir my daardie babas se matriekafskeidfoto’s.”
21 Jaar getroud
As gebore Kimberliet was hy in Hoërskool Diamantveld. Hy het na skool by Kovsies in Bloemfontein studeer. Hy is al 21 jaar met sy pragtige vrou getroud en hulle het twee seuns van 14 en 16 jaar oud.
“My vrou is die krag agter die stoel. Dit is sy wat my ondersteun en elke aand vir my in die bed wag wanneer ek laat moet werk.”
Heleni Holroyd staan in die deur van die spreekkamer en sê laggend dat sy hom darem elke aand sien.
Pasiënte word familie
Na 20 jaar as ’n GP het Clive se pasiënte vir hom familie geword. “Dit is vir my so ’n groot voorreg om deel te wees van families, om ’n band met hulle te bou, om die kinders te sien grootword en om te weet jy het hulle vertroue gewen.”
Sy pasiënte getuig daarvan dat hy hulle altyd op hulle gemak en rustig laat voel. Clive sê respek is wat daartoe bydra.
“Mens moet vir jou pasiënt luister. Laat hulle hulleself uitpraat. Studies het bewys dat meeste dokters hulle pasiënte binne 30 sekondes onderbreek. Ek probeer altyd eers klaar luister en ander mense hanteer soos ek self hanteer wil word. Mens moet ook empatie wys.”
Clive sê die moeilikste deel van sy werk is om aan ’n pasiënt slegte nuus of ’n slegte diagnose oor te dra.
Moeilik om ‘n pasiënt te verloor
“Dit krap my vreeslik om. Dit is vir my baie moeilik om met die pasiënt se familie te praat. Dit maak ook ’n geweldige impak op ’n mens as jy ’n pasiënt verloor. Ek onthou vir jare na die tyd nog oorlede pasiënte se name.”
Elke beroep kom egter ook met hoogtepunte.
“Elke dag van my beroep is vir my ’n hoogtepunt. Om ’n pasgebore baba in sy ma se arms te sit. Die dankies en waardering.
“Die beroep is egter ook baie veeleisend en mens moet soms ’n lyn trek om nie jou familie af te skeep nie.”
Wou nooit ‘n ander beroep hê nie
Hy sê daar was vir hom geen alternatief as om ’n dokter te wees nie. Hy het dit oorweeg om in ’n spesifieke rigting te studeer, maar geniet dit om ’n GP te wees veel meer.
“Volgens die aanlegtoetse op skool moes ek ’n dominee gewees het,” lag hy.
“Dit sou egter nie vir my gewerk het nie. Ek kry nou die kans om families van babas tot oumas te versorg.”



