KIMBERLEY. – Johanita van Heerden wag glo al van 2004 af om by ’n munisipale woonstel in te trek. Daar is verskeie munisipale woonstelblokke in die stad en persone wat in aanmerking kom vir so ’n woonstel, se name word op ’n waglys geplaas.
LEES OOK: Fibromialgie: daar is hoop in die pyn
Munisipale woonstel in Roodepan aangebied
Van Heerden sê sy is vroeër deur die Sol Plaatje-munisipaliteit ’n woonstel in Roodepan aangebied, maar sy moes dit van die hand wys omdat sy ’n sieklike kind met baie uitdagings het. Haar seun is ‘n leerling by die Elizabeth Conradie-skool en vervoer daagliks soontoe sal ’n probleem wees.
“Ek het al oral gaan kla. Ek was al oor en oor by die munisipaliteit. Ek was by raadslede en ook die premier. Ek moet vanaand by die plek uit wees waar ek nou bly. Ek het nêrens om te gaan nie.”
Volgens Van Heerden is daar tans ’n woonstel in Hercules Hof in Beaconsfield oop, maar sy het steeds nie ’n woonstel gekry nie.
“Dit lyk vir my hulle wil nou ’n ander vrou daar laat intrek.”
Munisipaliteit sê sy is nie op databasis nie
Sello Matsi, munisipale woordvoerder van Sol Plaatje, sê: “Daar is ’n baie lang, uitgebreide lys van burgers wat munisipale woonstelle moet huur. Uitdagings met hierdie aansoeke wissel van diegene wat die woonstelle verlaat, óf dit verhuur aan familie, óf weier om sleutels te oorhandig. ’n Ander rede is omdat hulle wil kies watter woonstel hulle wil hê weens ’n magdom redes. Baie huurders en voornemende huurders het ook hul eie keuses en redes wat die munisipaliteit ongelukkig nie kan bevredig nie, veral oor plekke en grootte, wat ’n daaglikse uitdaging is. Die proses is goed uiteengesit deur die beleid van die Raad. Enige gegriefde persoon kan die aangeleentheid na die geskilkomitee verwys.
“Ongelukkig het die persoon na wie verwys word, ook nooit aansoek gedoen nie en is sy ook nie op die databasis nie. Dit weet ons omdat sy aangeraai is om prosedures te volg nadat sy ons kantore onlangs besoek het. Verder kan ons nie die raadsbeleid oortree nie.”



