Solidariteit: ‘Ons sal drakoniese regulasies vir gesondheidspraktisyns teenstaan’

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit het aangekondig hy gaan die voorgestelde regulasies wat die weg baan vir die implimentering van die sogenaamde “Certificate of Need” vir gesondheidspraktisyns ten sterkte opponeer.

Dit volg nadat die voorgestelde regulasies in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer is.

Ingevolge die nuwe regulasies moet alle praktisyns aansoek vir ’n sertifikaat doen wat hulle dan in staat sal stel om te mag praktiseer. Hiervolgens sal gesondheidspraktisyns dan voorgeskryf word oor waar en hoe hulle mag praktiseer. Solidariteit voer aan dat hierdie voorskriftelike regulasies inbreuk maak op beide die regte van praktisyns en pasiënte en dus ongrondwetlik is. Dit sal verder ook die lewering van gesondheidsorgdienste ernstig inperk.

“Blatante uitbuiting van kennis.”

sê Solidariteit

“Hierdie sertifikaat is niks minder as die effektiewe oorname van gesondheidspraktisyns se praktyke nie. Deur gesondheidspraktisyns aan hierdie regulasies te onderwerp dwing dit hulle om hulleself aan die staat uit te lewer om dan soos pionne slegs te mag praktiseer, soos en waar hulle deur die staat voorgeskryf en voorgesê word. Hierdie regulasies is ’n blatante uitbuiting van kennis en vaardighede om die staat se eie agenda te dryf. Dit is tot nadeel van gesondheidspraktisyns en pasiënte wie se grondwetlike regte van vryheid van professie én vryheid van assosiasie misken word,” sê Henru Krüger, sektorhoof van die professionele gilde by Solidariteit.

Volgens Solidariteit poog die regering om deur hierdie regulasies die weg te baan vir die uiteindelike implimentering van die voorgenome Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Die staat vereis hierdeur reeds dat staatsdepartemente en plaaslike owerhede die praktisyn en sy werksaamhede moet goedkeur asook dat gesondheidspraktisyns moet spesifiseer wie hulle binne hul praktyk sal bedien en akkommodeer.

Staat beskik nie oor vaardighede of finansiële hulpbronne nie

“Dit is absoluut belaglik dat ’n  gesondheidspraktisyn nie self kan besluit hoe hy wil praktiseer nie en voorgeskryf moet word in terme van watter pasiënte hy mag behandel. Hy word basies onderwerp aan dwangarbeid wat hom slegs in staat stel om te praktiseer volgens die voorskrifte van die staat. Hy sal geen beheer meer oor die aard van sy praktyk hê nie. Om ons gesondheidspraktisyns totaal oor te laat aan die staat wat dan besluit of hulle mag praktiseer al dan nie, is iets wat ons nie kan toelaat nie,” het Krüger verder aangevoer.

“Die implikasies vir mediese sorg en die mediese professie is verreikend. Die staat het nie die vermoë om die totale mediese professie in die land te beheer nie. Hulle beskik nie oor die vaardighede of finansiële hulpbronne nie. Ons het reeds gedurende Covid-19 gesien tot watter mate die staat se onbevoegdheid en korrupsie strek. Ons moet alles in ons vermoë doen om verdere oorname van die ganse mediese bedryf deur die staat te stuit,” het Krüger afgesluit.

*mediaverklaring

LEES OOK: Verdagte verskyn na Jaco Geldenhuys se liggaam gevind is

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.