Kontrakteur voltooi ‘n ordentlike pad-projek in ‘n mindergegoede buurt

Deel hierdie storie / Share this story

Dis nie aldag dat ‘n behoeftige gemeenskap met ‘n nuwe pad kan spog nie.

Sewende Laan, naby Springbok, is eintlik n afgeskeepte of meer polities-korrek, n halfvergete gebied vir die oorwegend Bruin inwoners. Veral lae of middelklas inwoners woon hier.

En soos elders, is dit maar moeilik om met jou voertuie op beskadigde, swak of ongeteerde paaie te ry. Dis presies waarmee die inwoners ven Sewende Laan vir etlike jare moes worstel.

Die Nama Khoi-munisipaliteit (NKM) op Springbok het egter ‘n geruime tyd gelede uit hul pad gegaan om ten minste ‘n ordentlike “hoofpad” aan die inwoners te verskaf. Die droom (gedienste pad) het onlangs ten volle ‘n werklikheid geword toe die laaste gedeelte van die pad voltooi is.

Aanvanklik was konstruksiewerk net aan ‘n gedeelte (van die voorheen grondpad) deur ‘n ander kontrakteur gedoen. Die res (ongeveer 500 m) is onlangs deur Zihaadt “Hangkas” Cloete van MPG Construction gedoen en voltooi.

Hy het tydens die oorhandiging van sertifikate aan sy padwerkers vertel dat hy uit sy pad gegaan het om kwaliteitwerk te doen.

“Ons het ons gedeelte binne twee maande in plaas van drie maande voltooi. Boonop het ek 12 ekstra mense aangestel en sodoende ook werk geskep.”

Volgens Cloete het hy selfs so ver gegaan om hier nuwe padtekens aan te bring waar dit beskadig of vernietig was. Die nuwe pad is geplavei en van randstene, talle padtekens en spoedwippe voorsien. Dit verbind hierdie gemeenskap met die aangrensende woonbuurt, Bergsig.

Cloete glo baie sterk die plaaslike owerhede moet help toesien dat plaaslike mense kontrakte en werk kry. Hy glo dat die area baie bekwame en ervare mense het wat werkloos is.

“Ek het nie ‘n probleem as mense of kontrakteurs van elders hier kom werk nie. Ek voel egter dat daar eerstens na die plaaslike mense gekyk moet word,” het Cloete gesê.

Die burgemeester van die NKM, Riaan Cloete, het sertifikate aan die werkers van MPG Construction oorhandig.

Riaan het gesê dat inwoners van die verskillende gemeenskappe saam behoort te staan. En dat mense nie verskillende dorpe of woonbuurtes wat onder die NKM val, teenoor mekaar moet afspeel nie. Die pad is vir almal se gerief.

“As daar werke of kontrakte uitkom, doen aansoek in plaas daarvan om mekaar te probeer kelder of benadeel.”

Alhoewel inwoners al die pad kan gebruik, sal dit in ‘n latere stadium amptelik deur die NKM aan hulle oorhandig word. Volgens die munisipale bestuuder, Samantha Tats-Titus, moet hulle eers alle dokumentasie afteken.