Die beroepswêreld het in die afgelope jaar en ‘n half radikaal verander, en so ook die vaardighede waarna werkgewers soek. Dis daarom bitter belangrik vir werksoekers om hulle CV’s só aan te pas om die gewensde vaardighede waarna werkgewers soek, ten toon te stel.
Kimberley Online co. gesels met Peter Kriel, algemene bestuurder by The Independent Institute of Education, SA se grootste en mees geakkrediteerde privaat- hoër opleidingsverskaffer.
Kriel sê van die vaardighede waarna werkgewers nou soek, sluit in ‘n werknemer se vermoë om veerkragtig en onder druk te kan werk, onafhanklik te kan werk en gemaklik te wees met aanlyn-werk, soos om werk aanlyn in te handig, op terugvoering te reageer en effektief aan aanlyn-vergaderings deel te neem.
“Die beste raad is om terug te kyk na die afgelope jaar en voorbeelde van hoe jou ervaringe en aksies dié vaardighede kan demonstreer, te soek.”
“As jy diep genoeg grawe, sal jy situasies onthou waartydens jy uitdagings oorwin het en meer bereik het as wat jy gedink het jy sou.”
Kriel sê wanneer dit kom by werksverwante tegniese kwalifikasies, kan jy jouself laat uitstaan deur aandag te vestig op dié vaardighede wat die werkgewer sal oortuig dat jy sal kan aanhou wanneer uitdagende eksterne omstandighede opduik.
Kriel sê studente wat ná hulle gradeplegtigheid werk soek, kan noem dat hulle hul akademiese tog suksesvol tydens inperking kon voltooi en ook wys dat hulle tydens die uitdagende tyd kon aanhou werk.
Diegene wat reeds werk en miskien vir ‘n ander pos of bevordering aansoek wil doen, kan voorbeelde noem van hoe hulle gedurende inperking steeds kop bo water kon hou.
“In die verlede was spesialisvaardighede van uiterste belang, maar nou, ongeag jou veld, moet elkeen ‘n generalis wees. Jy moet kan demonstreer hoe jy nie net in staat is om jou spesifieke veld se vaardighede te bemeester nie, maar dat jy ander vaardighede daarby geleer het. Jou sterkpunt as kandidaat kom nie meer net van jou veld nie, maar die kombinasie van vaardighede wat jy besit.”
“Dis nie nou die tyd om te wag tot dinge meer sin maak of beter raak nie,” sê Kriel. “Jy moet aanhou om alles te doen wat jy kan om jou selfvertroue, vaardighede en persoonlike bemagtiging te verbeter.”



