Ernest Peter Seeley (85) en Jeanette Seeley (79) sê dit was liefde met die eerste oogopslag toe hulle mekaar jare gelede ontmoet het. Dié egpaar vier vanjaar hulle 61ste huweliksherdenking en sê hulle is vandag nog so lief vir mekaar soos die eerste dag.
Ernest is ‘n gebore Kimberliet en Jeanette woon al vir 60 jaar in Kimberley.
“Ek was ‘n verpleegster by Kimberley-hospitaal toe ons ontmoet het. Ons het mekaar by die koshuis en tuine daar ontmoet.”
Die egpaar het vyf kinders – drie seuns en twee dogters.
“Ons een dogter is in April 2021 weens kanker oorlede. Sy was 51 jaar oud.”
Die twee is met 11 kleinkinders en vier agterkleinkinders geseën.
“Ons het op 24 Desember verlede jaar ons 60ste huweliksherdenking saam met al vyf ons kinders en hulle eggenote, al die kleinkinders én agterkleinkinders gevier!”
Jeanette vertel wat hulle voel die geheim vir ‘n lang en gelukkige huwelik is. “Jy het geloof, hoop en liefde nodig in ‘n lang en gelukkige huwelik. En wees altyd daar vir mekaar in goeie én in slegte tye.”
Die egpaar se raad aan jong paartjies:
As ‘n paartjie saam moet julle geloof met God reg wees. Opregte, ware liefde en eerlikheid met mekaar sal jou dra in ‘n gelukkige huwelik.
“Ons is een. Dankie vir die geleentheid om ons ware liefde vir n goeie gelukkige huwelik met julle te kan deel!”



