Anneke Kruger (36), vrou, mamma van twee en spysenier, sê die grootste les wat sy sover in haar lewe geleer het, is dat die Here se genade genoeg is.
As gebore Kimberliet en oud-leerling van Hoërskool Noord-Kaap het sy in haar lewe teëspoed en donker tye ervaar. Maar sy glo sy is een van Jesus se witbroodjies en sê ook sy het die huweliksmaat-lotto gewen toe sy tien jaar gelede met haar man, Hano Kruger, getrou het.
Stryd met kanker
“Dit was op Goeie Vrydag 29 Maart 2013 wat my man ’n knop in my nek, min of meer so groot soos ’n jumbo hoendereier, opgemerk het. My dogtertjie was toe nog nie eers drie maande oud nie.”
Anneke is die Dinsdag na Paasnaweek dokter toe en het antibiotika ontvang omdat die dokter gedink het dit kon moontlik TB wees.
“Dit het my uitgefreak omdat dit aansteeklik is en ek het in daardie stadium nog my dogtertjie geborsvoed.”
Na die antibiotiese behandeling nie die knop kleiner gemaak het nie, is sy vir toetse gestuur. ’n Dag voor Anneke en Hano se tweede huweliksherdenking het hulle die nuus gekry dat Anneke kanker het.
“Ek onthou steeds die kyk in my man se oë toe die dokter vir ons sê dit is kanker. Daar het ek besef ek het sonder twyfel die beste man. Hy het nie probeer sterk wees nie, maar ek kon sien hy is reg om saam met my te baklei, saam met my te huil, maar hy is daar vir MY. Hy is pens en pootjies saam met my om die berg oor te klim.
“Ek het my dogtertjie en man so gekyk en besluit ek gaan gesond word. Mens moet kanker of enige siekte eintlik met ’n oorwinningsgesindheid aanpak. Dan is die pad klaar 80% makliker.”
Anneke is met nie-Hodgkin-limfoom fase 2 gediagnoseer en het op 30 April 2013 vir haar eerste ronde chemoterapie gegaan.
Sy vertel tydens haar behandeling van ses maande is ’n klomp chemo-buddies oorlede, maar soveel meer het gesond geword. Sy kies om die hoop en die mooi daarvan te vertel.
Sy is in September dieselfde jaar skoon van kanker verklaar, maar het steeds haar volle behandeling klaargemaak.
“My eerste gedagte was net suiwer dankbaarheid dat Jesus my genadig was en dat ek my kind self kan grootmaak, maar daar is ook die survivor’s guilt – hoekom het ek gesond geword en ander nie?
“Dit het my lank gevat om te besef ek kan nie myself blameer omdat ek gesond geword het nie. Maar eerder dat God nog nie klaar is met my nie. Ek moes die doel vir my lewe uitvind. Ek is nog hier om te doen wat Hy wil hê ek moet.”
God gee wanneer die tyd reg is
Anneke en haar man moes twee jaar na haar behandeling wag om weer swanger te word, maar sy het vir vyf jaar daarna nie weer geovuleer nie.
“Ek en Hano het in Februarie 2020 besluit as ons nie swanger is voor Junie wat ek 35 word nie, ons tevrede sou wees om ouers van net een dogtertjie te wees. En toe begin lockdown. Ek en Linke (8) in Kimberley en Hano in Botswana. Die grense sluit, als is onseker en nege maande gaan verby wat ons mekaar nie sien nie.”
Anneke vertel sy het in Julie 2020 al haar kaste begin uitgooi en al hulle babagoed weggegee, want die besluit was reeds gemaak. September het sy vir Hano gesê sy kan nie meer so leef nie en hy moet uit sy werk bedank en terugkeer huis toe.
“Einde Oktober gaan haal ek hom op die Botswana-grens. Hy’s terug in Kimberley, sonder werk – dit als tydens ’n nimmereindigende pandemie en ons bekommer ons nogal wat gaan ons doen om finansieel te oorleef. Net 17 dae later vind ek uit ek is swanger en op dieselfde dag het Hano ’n werksaanbod gekry vir ’n werk in Kimberley. Ons kon die Here se hand so duidelik sien, want als het so mooi uitgewerk en ons het geweet ons het die regte keuse gemaak.
“Daar het so baie emosies deur my kop gegaan toe ek uitvind ek’s swanger. Ek het gelag, gehuil, was verlig en dankbaar als gelyk. My dogtertjie se gebede vir vyf jaar het waar geword en dit was ook ’n groot les vir haar. Want als gebeur nie wanneer ons dit wil hê nie, maar eers wanneer God besluit die tyd is reg, sal dit gebeur.”
Anneke het ’n gesonde swangerskap gehad en baba Lihan is twee weke vroeg met ‘n keiser gebore.
Moenie hoop verloor nie
Anneke sê haar geloof, haar man, haar ma en so baie ander mense wat vir haar omgee, het haar staande gehou in die moeilike tye.
“Ek wil graag vir ander sê wat hoop verloor het, vra ander om vir jou te bid, veral as jy vergeet het hoe. Bly gefokus op die positiewe. Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. Vasbyt, want as ek jou kan bemoedig met een ding – dit wat jy nou beleef, sal nie vir ewig aanhou nie. Als het ‘n vervaldatum. Vertrou God vir die regte dinge op die regte Godgegewe tyd.”
Foto’s geneem deur Su-Mari Bothma.



