Baie enkellopendes is op soek na die perfekte een, maar niks weerhou jou daarvan om enkellopend en gelukkig te wees, terwyl jy sukses nastreef tot die tyd aanbreek vir jou om jou perfekte pasmaat te vind nie. Die 30-jarige Ruhan Swanepoel, beter bekend as Stokkies, sê elkeen is verantwoordelik vir sy of haar eie geluk, hetsy enkellopend of nie.
Gelukkig om met ander mense te kan werk
Ruhan is ‘n verkoopspersoon by Stafix en is ook in beheer van die herstelwerkafdeling. Hy geniet sy werk waar hy baie met ander mense in aanraking moet kom en sê die kommunikasie tussen hom en sy kliënte is vir hom vreeslik belangrik.
“Om elke oggend gesond op te kan staan en te kan werk met mense, wat my passie is, is vir seker genade. Ek wil nog baie bereik en bied, maar ek sien myself as suksesvol en ek glo ek is suksesvol in die doel wat ek in my gemeenskap het.”
Ruhan het hard geval na ‘n lang verhouding met sy eerste liefde wat nie uitgewerk het nie. “Dit het my lank gevat om aan te beweeg, maar ‘n mens kom reg, jy kom weer oor jou hartseer. Ek bid elke dag vir die regte een en dat ek sal weet dat sy die regte een is.”
Ruhan het vir lank alleen gewoon, maar onlangs het sy ma by hom ingetrek. “Toe ek jonger was, wou ek altyd by my ma bly, maar nou wil my ma by my bly,” lag hy.
Om enkellopend te wees, het voordele en nadele. Ruhan sê hy het tyd vir sy familie en vriende wat anders is as jy ‘n vrou en kinders het, want hulle is dan jou prioriteit.
Lees ook: Wiskunde – geen probleem te groot vir Daniel nie
Vriende is fantasties!
Wanneer die druk van enkellopend wees wel ‘n bietjie swaar raak, weet Ruhan na wie toe hy kan draai vir ondersteuning. “Ek het ‘n wonderlike netwerk van vriende, sommige familie en ook vriende wat familie geword het. Hulle is regtig wonderlik en kosbaar vir my.”
Volgens Ruhan is daar ‘n hele paar voordele daaraan om nog enkellopend te wees, soos hy hoef nie aan iemand te verduidelik waar hy is of waarheen hy op pad is wanneer hy by vriende wil wees nie.” Om enkellopend te wees, maak van jou ‘n sterk mens. Jy weet hoe om alleen te wees en dit te geniet.”
“Ek geniet dit om tussen mense te wees en maak maklik vriende, maar ek geniet my “Stokkies”-tyd ook.” Ruhan vertel hy hou daarvan om Sondae te rus vir die week wat voorlê. “My familie en vriende weet Sondae gaan ek kerk toe en bly dan verder net by die huis. Ek geniet dit om te sing en te lees en antwoord nie maklik my foon op ‘n Sondag nie.”
Ruhan se resep om enkellopend en gelukkig te wees, is om sy liefde op ander uit te stort
Ruhan se advies aan ander enkellopendes is om jou eie geluk te bepaal en om jou met mense te omring wat die beste in jou uitbring. “Om alleen te wees, beteken nie noodwendig jy is alleen nie. Ek wou op dertig al getroud wees met vier seuns, maar die Vader se planne is anders vir my.” Ruhan sien steeds uit daarna om sy eie kinders te hê, maar hy weet dit sal op die regte tyd kom. Nou stort hy sy liefde uit op sy familie en vriende se kinders. “As ek hulle bel, vra ek eerste hoe gaan dit met die kinders.”
“Mense is vir my kosbaar en ek wil ‘n verskil maak in hulle lewens. Dit stel my tevrede en maak my gelukkig.”
Lees ook: Jade (4) met rare siekte gediagnoseer, benodig stamselskenker



