Daar het wêreldwyd meer as 32 miljoen kopieë van Rick Warren se The Purpose-Driven Life verkoop. Publishers Weekly beskryf dit as die suksesvolste verkoper van nie-fiksie in die geskiedenis. Hierdie topverkoper is deur Elmarie Botes in Afrikaans vertaal en heet Die doelgerigte lewe.
Mense wonder al vir duisende jare oor wat die doel van hulle lewe is. Warren hou vol dat elkeen van ons deur God en vir God gemaak is en dat die lewe nie sin sal maak voordat ons dít begryp nie. Die lokteks op die agterblad lui: “Dit wat jy in jou hande hou, is meer as ’n boek; dit is ’n gids vir ’n 40-dae geestelike reis wat jou sal help om die antwoord op die lewe se heel belangrikste vraag te ontdek.”
Die uitgewersbrief wys op die vyf doelwitte wat Warren reken God vir elkeen van ons het, naamlik:
1) Ons is beplan vir God se behae: Jou eerste doel is om Hom opreg te aanbid.
2) Ons is gevorm vir God se familie: Jou tweede doel is om opregte sielsgemeenskap te ervaar.
3) Ons is geskep om soos Christus te word: Jou derde doel is om opregte dissipelskap te leer.
4) Ons is gevorm om God te dien: Jou vierde doel is om opregte bediening te beoefen.
5) Ons is gemaak vir ’n sending: Jou vyfde doel is om opregte Evangelieprediking uit te leef.
Hierdie hersiene uitgawe het ook QR-kodes wat jou na 42 eksklusiewe drieminuut-videos van Warren sal neem. Jy gebruik net jou slimfoonkamera om die QR-kode te skandeer deur die gekodeerde blokkie aan die begin van elke hoofstuk af te neem, en die video vir daardie hoofstuk sal outomaties in jou slimfoon se webleser verskyn. Jy kan ’n gratis QR-kodeleser vir jou foon aflaai van jou foon se aanlyn winkel.
Uittreksel: God mors nooit iets nie. Hy sou jou nie vermoëns, belangstellings, talente, gawes, persoonlikheid en lewenservarings gegee het tensy Hy van plan was om hulle vir sy heerlikheid te gebruik nie. Deur daardie faktore te identifiseer en te verstaan kan jy God se wil vir jou lewe ontdek (226).
Meer oor die skrywer: Dr. Rick Warren is ’n pastor, teoloog, skrywer en filantroop. Warren bedien by die Saddleback-gemeente te Kalifornië wat hy en sy vrou, Kay, in 1980 gestig het.
Die doelgerigte lewe beslaan 359 bladsye. Dit word uitgegee deur Struik Christian Media.



