PRETORIA. – Vyf verdagtes is gearresteer vir die moord op die twee polisiebeamptes wie se verbrande liggame agter in ‘n uitgebrande polisievoertuig in ‘n bos gevind is.
Volgens IOl het Job Mokgoro, premier van Noordwes, die vinnige arrestasie van die vyf verdagtes verwelkom.
“Aangesien ons hierdie afskuwelike voorval ten sterkste veroordeel, doen ons ‘n beroep op die publiek om altyd nou saam te werk met die wetstoepassers in die stryd teen misdaad, en ons waardeer die werk wat hulle doen om ons gebiede vry te hou van kriminele dade,” het Mokgoro in ‘n verklaring gesê.
Die vyf verdagtes is Woensdag in Logageng in hegtenis geneem op aanklag van die moord op konstabel Simon Ngakaemang Ntsekeletsa (50) en sers Mojalefa Horatius Molete (42).
Die twee beamptes was in die Mareetsane-polisiekantoor, ongeveer 60 kilometer van Mahikeng, gestasioneer.
Volgens die Valke het die twee polisiebeamptes Maandag gepatrolleer toe hulle op ‘n voertuig met verneemde gesteelde bokke afkom.
Kaptein Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke in Noordwes sê die beamptes het dit aan hul bevelvoerder rapporteer en gesê hulle gaan binnekort die verdagtes se voertuig na die stasie neem.
‘n Uur later het die twee beamptes gerraporteer dat hulle naby aan die polisiestasie is, maar het toe nooit opgedaag nie. Toe niemand hulle in die hande kon kry nie, is daar ‘n soektog na hulle begin.
Die gemeenskap het Dinsdag die polisie in kennis gestel van bloedmerke saam met twee polisie-kentekens wat op die pad na die polisiestasie lê.
Daarna is die liggaame van die polisiebeamptes in die uitbrande voertuig gevind.
Daar is glo ‘n 9 mm-pistool in die besit van die vyf verdagtes ontdek, asook ‘n hamer, bloedbevlekte klere en ‘n voertuig is van hulle gevat om verdere ondersoek in te stel.
Lees ook: Skietery by winkel lei tot klag van poging tot moord



