Die Motherwell-polisie het Dinsdagoggend ‘n manklike verdagte (21) in hegtenis geneem en verskeie gesteelde items wat met huisroof verbind kan word, gekonfiskeer.
Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê die items is almal verbind aan inbrake wat oor die laaste twee maande plaasgevind het.
“Die polisie het inligting ontvang oor inbrake en het die inligting opgevolg. Hulle het ‘n lasbrief gekry en gedurende die deursoeking het hulle drie plasma televisiestelle, ‘n 9mm-pistool, geld, 15 selfone en klere gekonfiskeer. ‘n Koeëlvaste baadjie is ook gekonfiskeer.”
Verdere inhegtenisnames word verwag.
Enigiemand wat onlangs ‘n slagoffer was van huisroof in die Motherwell-area en sy/haar selfoon of televisiestel kan uitken, skakel adj.-off. Marrilyn Jungli by 082 319 8727.



