Pensionaris vra vir hulp om vermoorde 15-jarige kleinseun te begrawe

Deel hierdie storie / Share this story

KAAPSTAD. – ‘n Pensionaris van Kraaifontein vra vir hulp om haar 15-jarige kleinseun te begrawe. Die seun se liggaam is verlede Dinsdag in ‘n oop veld, net buite Scotsdene, gevind nadat verbygangers se aandag getrek was na ‘n ander liggaam wat langs syne gelê en brand het.

Volgens IOL het die polisie bevestig dat dit die liggaam van die 15-jarige Antonio Daniels is.

Louise Daniels, die ouma van Antonio, sê sy is gevra om die verbrande liggaam van ‘n seun, wat die polisie vermoed haar kleinseun is, te gaan identifiseer. Dit was egter nie haar kleinseun se liggaam nie, maar ‘n ander liggaam in die lykshuis was wel dié van haar kleinseun, Antonio.

“Almal het aanhoudend gesê hy is verbrand, maar hy was glad nie. My baba was nie die verbrande lyk wat hulle gevind het nie, maar sy liggaam het in dieselfde omgewing gelê. Hulle het vir my gesê dit was net oorkant die ander liggaam. Ek het sy lyk vandag gaan uitken en daar is vir my gesê dat hy met ‘n geweer tussen sy oë geslaan is en in sommige gedeeltes gestenig is, maar hy is nie verbrand soos mense glo nie, het Daniels gesê.

Die pensionaris wil graag haar kleinseun op ‘n waardige manier begrawe

“Antonio het by my grootgeword, so ek is al wat hy nog ooit gehad het. Hy het nie verdien om so ‘n verskriklike dood te sterf nie, en ek kan nie dink wat hy moes deurgemaak het nie. Al wat ek nou wil hê, is om hom ‘n waardige begrafnis te gee, maar ek kan dit nie alleen doen nie.”

“Ek kan dit nie bekostig nie, en daarom doen ek ‘n beroep op almal wat my kan help om dit asseblief te doen. My pensioen is al wat ek het en dit is nie genoeg om die koste te dek nie,” het Daniels gesê.

As u Louise Daniels wil help om haar kleinseun te begrawe, kontak haar kleindogter Manneville by 073 308 0421 of 074 855 1162.

Lees ook: Man se liggaam met hande vasgebind in woonstel gevind