August 5, 2021

Twee nuwe boeke oor Moeps

Diereliefhebbers tussen drie en agt jaar oud kan gerus nader skuif, want Protea Boekhuis het pas twee splinternuwe hardebandboeke oor Moeps die mopshond deur Aaron Blabey gepubliseer. Die boeke se titels is Moeps die toeris en Moeps die ster. Dit volg op die gewilde Moeps die mops, Moeps die skelm en Moeps die wenner. Jaco Jacobs het die rymvertaling uit Engels gedoen. Blabey het nie net vir die heerlike humoristiese teks gesorg nie, maar hy is ook verantwoordelik vir die kleurvolle illustrasies. Elke boek is 32 bladsye lank en is geskik vir voorlees en selflees.

Moeps die ster

Dit is Worsie en Moeps se groot fotodag en hulle poseer in prettige kostuums. Moeps wil natuurlik die middelpunt van belangstelling wees en sorg dat die kamera net op hóm bly. Die fotograaf sien egter die oulike worshond raak. Natuurlik is Moeps groen van jaloesie en gun nie Worsie sy sterstatus nie. Moeps leer egter gou sy les!

Moeps die toeris

Moeps saai chaos en verwoesting as hy met vakansie gaan. Hy laat skoon jou vakansiegees verdwyn, want om amok te maak is sy ambisie. Oral waar hy kom, bederf hy die pret. Maar soos altyd vind hy gou uit dat dit hom sal baat indien hy hom bietjie gedra. Niemand hou immers van ’n slegte toeris wat nie respek vir ander het nie.

Meer oor die outeur: Aaron Blabey is ’n bekroonde skrywer van Australië en hou die titel van Australiese Literatuurambassadeur. Hy het onder meer twee topverkoperreekse, Pig the Pug en Bad Guys, geskryf en geïllustreer. Dié reekse is in meer as 25 lande uitgegee.

Ek het heerlik aan beide Moeps die ster en Moeps die toeris gelees.

Skaf Moeps die ster hier aan, en kry Moeps die toeris hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *