Skole tot 26 Julie nog gesluit

Deel hierdie storie / Share this story

Suid-Afrika sal vir nóg twee weke op vlak vier van inperking bly en alkoholverkope sal, onder andere, verbode bly.

Só sê president Cyril Ramaphosa Sondagaand in sy toespraak aan Suid-Afrika oor die verwikkelinge in die land se reaksie op die Covid-19-virus.

Pres. Ramaphosa het op 26 Junie aangekondig die land sal vir twee weke na aangepaste vlak vier van inperking oorgaan.

Suid-Afrika het in die laaste 24 uur 16 302 nuwe Covid-19-gevalle en 151 sterftes weens die virus aangeteken.

Hier is wat jy moet weet:

Alkoholverkope bly verbode. Restaurante, kroeë, sjebiens en tavernes mag steeds nie in alkohol handel dryf nie.

Restaurante mag onder streng maatreëls oopmaak. So ook gimnasiums.

Alle soorte byeenkomste word steeds verbied. Mense mag slegs vir begrafnisse bymekaarkom en dán word binnenshuise byeenkomste beperk tot 50 persone, en buitenshuis tot 100.

Die aandklokreël sal steeds van 21:00 tot 04:00 ingestel word. Slegs persone met toestemming mag tussen dié tye buite hul huise wees.

Gimnasiums en sportklubs mag weer oopmaak.

Vee- en wildveilings mag gehou word.

Skole bly gesluit tot 26 Julie.