Inwoners van Springbok en ander areas ly steeds aan bomskok na ‘n groot skudding.
Dit was so erg dat baie, so deur die slaap en skok, dadelik begin bid het. Die skudding het ongeveer 01:39 Dinsdagoggend gebeur, terwyl die meeste inwoners nog lekker snoesig geslaap het.
Volgens die Raad vir Geowetenskappe(CGS) het dit ‘n vlakdiepte van ongeveer 10 km by sy episentrum bereik. Vroeë data wys dat die episentrum byna 43 km suid-oos van Springbok in die Nama Khoi- area was. Die lesing was waarskynlik 4.2 volgens die Richterskaal.
Inwoners het die “vreeslike” skudding gevoel. Volgens ‘n plaaslike inwoner het hy ongeveer 01:40 wakker geskrik en ‘n groot geraas gehoor. Hy het gesê: “Die vensterruite het begin rittel en dit het vir etlike sekondes aangehou. Gewoonlik blaf die honde sporadies hier. Vanoggend het hulle egter baie ‘snaaks’ en aanhoudend geblaf. Hulle was onrustig en moes dit hewig ervaar het.”
Ander inwoners vertel dat hulle baie bang was en nie weer kon slaap nie. Baie het eerder op hul knieë geval en gebid.
Emile Bugan van Okiep het laat weet dat sy rekenaar se skerm omgeval het. Volgens hom was die skudding die ergste ooit op hierdie dorp.
Op Carolusberg, waar een van die grootste en diepste kopermyne in Suid Afrika is, was die skudding glo baie erg, volgens inwoners hier. Die myn het een van die langste ondergrondse tonnels.
Volgens Ronel Bonn was dit so hewig en erg, die dak en vensters van hul huis het lank gedreun.
Seismoloë kan die ligging van die episentrum en diepte van die skudding aanpas soos nuwe data beskikbaar word, het CGS vertel
Voorlopige inligting dui daarop dat geen struktuele skade op Springbok self en ander dorpe, hier naby, gebeur het nie.
Blykbaar was daar vroeër ook sulke skuddings op Loeriesfontein, in die Hantam-gebied. Dit was ligter.
Inwoners bly egter bekommerd, want volgens hulle gebeur sulke skuddings al meer en meer. Baie glo dat dit is as gevolg van die verskeie en langdurige mynboubedrywighede in Namakwaland is.
Dit is ook bekend dat afvalkernkrag by Vaalputs gestort word. Dit lê in die area waar die skudding waarskynlik erg gevoel was.
Ander inwoners voel dat ‘n Hoër hand met die omgewing se mense praat. Hulle glo dus dat net gebed ‘n natuurramp of tragedie hier sal kan keer.
* Jaarliks vind duisende sulke skuddings(3.0-3.9) wêreldwyd plaas, volgens syfers vanaf verskillende wetenskaplike rade.



