‘Nie skatryk party’ – arts verruil praktyk vir politiek

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Bekende dokter het onlangs besluit om die mediese wêreld te verruil vir die politieke arena en sê sy party is nie ‘n “skatryk party”.

Dr. Gustav Bock, van Pofadder, het onlangs ‘n politieke beweging, die Namakwa Civic Movement (NCM), gestig. ‘n Party oor alle spektrums heen, volgens hom.

Dié verandering in beroep het die Springbok-inwoners, maar veral sy pasiënte, onkant gevang. Dr. Gustav Bock was voorheen deel van die Dr. Watt & Bock praktyk op Springbok.

Sou praktyk verlaat

Bock het reeds sowat ‘n jaar gelede n aanduiding gegee het dat hy die praktyk sou verlaat. Min het egter geglo of geweet dat hy die ongenaakbare en rowwe politiek sou betree.

Hy het vertel dat hy ‘n 100% positiewe boodskap aan almal wil uitstuur. “In my praktyk moes ek menigmaal hoor met watter klagtes en probleme my pasiënte gekonfronteer word. Dit is waarskynlik as gevolg van swak leierskap, plaaslik, asook die regering se onbeholpenheid in die algemeen.”

Wil probleme oplos

Volgens Bock het hy hierna besef dat hy sy pasiënte se simptome kan behandel as arts, maar nie hulle sosio-ekonomiese probleme nie. Filosofies het hy gepraat van die geveg tussen ‘n generalist en specialist.

Hy wil eerder ‘n generalist wees, wat mense op baie fronte kan help. In plaas van ‘n specialist, wat net ‘n klein verskil in mense se lewens kan maak, was sy slotsom hierna. Hy vertel verder: “Ons ploeg alreeds 80% in ons gemeenskappe, so hierdie beweging is net ‘n verlengstuk daarvan. Ons moet Namakwalandse mense ekonomies
kapasiteer deur aan regeringsinisiatiewe soos verkiesings deel te neem.”

“Ons is oop vir almal en wil en sal graag  almal akkommodeer, alhoewel ons basis hoofsaaklik Bruin is.”

Nie skatryk party net vir die elite

Verlede maand het NCM met ‘n politieke reis (roadshow) begin by die KhaiMa-streek in Pofadder, sy geboortedorp. Hieroor sê hy: “Ek wil nie my eie beuel blaas nie of  lugkastele bou nie, maar die belangstelling hier was ongelooflik. Die feit dat my oupa hier begrawe was het ook ‘n groot rol gespeel. Met sekerheid kan ek dus noem dat KhaiMa 110% agter ons staan.

“Die ook nie waar dat ons skat-skat ryk, of ‘n skatryk party, is en ‘n party vir die elite is. Ek kan enige tyd teruggaan na my praktyk as dit moet. So, ons is daar vir die opheffing van ons mense. Dit wil ons doen deur aan die munisipale verkiesings later die jaar deel te neem.”

Ten slotte, het hy almal uitgenooi om die party ook finansieel te ondersteun. Maar, spesifiek, om aan te sluit as lede.

“Ons is ryp vir verandering, ryp vir effektiewe leierskap en meer as gereed vir  27 Oktober, stem dus vir die NCM.”

Dr. Calvino Watt gaan aanvanklik  help met kiesers-opvoeding. Die sekretaris is Richie Cloete, ‘n maatskaplike werker en akteur. Die ander bestuurslede is Hilton Nel, Malcolm Grace, Rodville Adams, Donne-Lee Jano en Hendriena Coetzee.

Volgens Riaan Cloete, burgemeester (Nama Khoi munisipaliteit) en ANC-leier op Springbok het hy geen vrees of teenkanting vir nuwe partye nie.

“Ons weet nie wat na 27 Oktober kan gebeur nie, maar die ANC is daarop uit om alle setels hier te wen,”

Volg FiND iT op Facebook hier.

Lees meer artikels hier.