Die wêreld is aan die gons oor Britney Spears (39) se getuienis waarin sy pleit om voogdyskap wat in 2008 aan haar pa gegee is, te beëindig.
In die 24 minute emosionele getuienis vertel Britney Spears aan regter Brenda Penny hoe sy vir 13 jaar getraumatiseer, geboelie en mishandel is.
Sy sê ook in die getuienis sy wil haar familie, sowel as ander betrokkenes dagvaar.
Die verhoor, wat deur die hof aan die media uitgesaai is, het Woensdag plaasgevind ná jare van stilte oor die saak, hoewel die New York Times vroeër vandeesweek ’n verslag gepubliseer het waarin daar in privaat regsdokumente genoem word dat sy die voogdyskap al ’n paar jaar probeer beëindig, met verwysing na wanbestuur deur haar pa en die uiterste regskoste daaraan verbonde.
In die volledige getuienis sê Britney hoe sy forseer is om te werk, al het sy vir ’n breuk gevra. Sodra sy met enigiets verskil of nee sê, is daar vir haar gesê sy gee nie haar samewerking nie en sy neem nie haar medikasie nie. Sy is ook teen haar wil op nuwe medikasie gesit wat haar vermoë om enigiets te doen, belemmer het.
Sy kon nie alleen aantrek nie en het mense gehad wat haar oppas terwyl sy voor hulle moes aan- en uittrek. Sy mag nie eers ’n deur vir haar kamer gehad het nie. Sy moes verskeie toetse ondergaan en na ’n rehabilitasiesentrum gestuur waar sy forseer is om sewe dae per week te werk.
“Ek het sewe dae per week sonder af dae gewerk, wat in Kalifornië, sekshandel, die enigste soortgelyke ding hieraan genoem word. Om iemand teen hul wil te laat werk, neem alle besittings weg – kredietkaart, kontant, telefoon, paspoort – en plaas die persoon in ’n huis waar hulle saam met die mense moet werk wat by hulle woon. Hulle het almal saam met my, die verpleegsters, die 24-7 sekuriteit, in die huis gewoon. Daar was een sjef wat daagliks vir my gekook het gedurende die weeksdae. Hulle het my elke dag sien aantrek – naak – oggend, middag en aand. My liggaam – ek het geen privaatheid of ’n deur vir my kamer gehad nie. Ek het agt flessies bloed per week ingegee,” sê Britney.
In die getuienis gaan sy voort om te sê sy mag nie haar gesinsbeplanningstoestel (IUD) laat verwyder het om te probeer om nog ’n baba te kry nie. Daar is net geweier dat sy dokter toe gaan.
Dit is maar net van die dinge waardeur sy moes gaan.
Hier is haar volledige verklaring.



