Sewe mense is dood en ses beseer toe twee vragmotors gister omstreeks 03:00 teen mekaar gebots het.
Die ongeluk het op die pad tussen Hanover en Philipstown plaasgevind.
Tom Watson, paramedikus van Rocket HEMS, sê Rocket is omstreeks 15:00 gistermiddag uitgestuur en moes drie vlugte De Aar toe maak. Watson is deur dr. Faheed Meer, ook van Rocket, bygestaan.
Drie vroue, onderskeidelik 22, 23 en 25 jaar oud, is afsonderlik deur Rocket na Lenmed in Kimberley gebring.
Warren van der Weide, vlieënier en basisbestuurder van Rocket Kimberley, het die dagskof gevlieg, met Jaco Botha en Paul Doxey, albei vlieëniers vir Rocket, wat die nagskof oorgeneem het.
“Sover ons kon vasstel, is die mense almal padwerkers wat op pad huis toe was. Hulle het in ‘n oop bak agterop die vragmotor gesit en dié vragmotor het teen ‘n ander een gebots,” sê Watson.
Die oorplasings het altesaam sewe ure geneem.



