Redakteur wat oor ‘Tembisa 10’ berig, aangevat

Deel hierdie storie / Share this story

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursform (Sanef) sê hy is woedend oor die gebrek aan joernalistieke etiek van Independent Media wat oor die “Tembisa 10” berig het.

Dit volg ná ‘n onlangse verklaring van Tebogo Tsotetsi, die beweerde pa, waarin hy sê dat die babas “nie bestaan tot dit bewys kan word nie.”

Redakteur het storie laat publiseer

Piet Rampedi, redakteur van Pretoria News, het op 8 Junie toegelaat dat ‘n storie in die koerant en op die IOL-webtuiste geplaas word wat dit as ‘n feit stel dat ‘n Gautengse vrou aan 10 babas geboorte gegee het en die Guinness-wêreldrekord gebreek het.

Rampedi het ‘n onderhoud met die paartjie, Tsotetsi en Gosiama Sithole, by hulle huis in Tembisa gevoer ‘n maand voor die storie gepubliseer is.

“Hy het, sonder om die feite met die hospitaal of die betrokke dokters te verifieer, soos die perskode van Suid-Afrika vereis, die storie gepubliseer,” lui die verklaring van Sanef.

“Dié kode stel dit baie duidelik dat joernaliste seker moet maak dat hulle nuus waar, akkuraat en regverdig geskryf word.”

Ander joernaliste weggewys

Toe ander joernaliste ook die saak begin ondersoek, is daar volgens Sanef vir hulle gesê Rampedi het hulle aangeraai om met geen ander joernaliste te praat nie en dat hy namens die familie sal praat.

Pretoria News en IOL het toe verder berig oor ‘n fondsinsameling wat begin is om geld in te samel vir die “tienling” en het selfs bankbesonderhede van ‘n firma, wat glo die geld vir die familie ingesamel het, gepubliseer.

Independent Media het ook sy lesers gevra om klere en geskenke vir die babas te skenk.

Kort daarna het Rampedi en Tsotetsi na Kaapstad gevlieg om ‘n donasie van R1 miljoen van dr. Iqbal Survé, voorsitter van Independent Media, te ontvang.

“In dié stadium was ernstige gapings in die storie reeds sigbaar en die Gautengse regering het bevestig dat geen tienlinge by enige privaat- of openbare hospitaal gebore is nie.

Ma blameer

“Op 14 Junie het Rampedi en Independent Media Sithole, die beweerde ma van die tienling, begin blameer en gesê dat sy verdwyn het en nie boodskappe geantwoord het nie.

“Dit is nou duidelik dat Rampedi nooit die babas gesien het of bewyse gehad het van hulle geboorte nie, maar bloot op WhatsApp-boodskappe tussen Sithole en Tsotsetsi vertrou het. Dit is roekelose en onverantwoordelike joernalistiek.”

Volgens Sanef is die hele storie een van die laagste punte in die Suid-Afrikaanse joernalistiek.

“Die feit dat Rampedi en Independent Media nie seker gemaak het van die basiese feite nie, het die hele joernalistieke professie skade aangerig.”