Drie jaar tronkstraf vir man wat Facebook-kopers verkul

Deel hierdie storie / Share this story

BLOEMFONTEIN. – Die 27-jarige Marius Smit wat in 2019 deur die Valke in hegtenis geneem is, is Donderdag tot drie jaar tronkstraf gevonnis.

Hy is op 76 aanklagte van bedrog skuldig bevind.

Smit het mense van regoor Suid-Afrika uit duisende rande bedrieg. Hy het motors wat nie syne is nie, op Facebook te koop aangebied deur vals profiele te skep waarvoor hy vroue se name, vanne en foto’s gebruik het.

Hy het ook van vier vals identiteitsdokumente en verskillende selfoonnommers gebruik gemaak om die motors en bakkies op Facebook te adverteer.

Vir die mense wat die voertuie wou koop, het hy vir ‘n deposito of vir petrolgeld om die voertuie tot by hulle te kry, gevra.

Sodra die kopers dan gewoonlik ongeveer R3 000 aan hom via CashSend, eWallet of MoneyMarket gestuur het, het hy die Facebook-profiel verwyder en van die SIM-kaart ontslae geraak.