AMERIKA. – “Ek het net skielik ‘n groot stamp gevoel en die volgende oomblik was dit pikdonker,” vertel kommersiële kreefduiker Michael Packard. “Ek kon voel hoe ek beweeg, ek kon voel hoe die walvis die spiere in sy mond druk.”
Die 56-jarige Packard was Vrydagoggend ongeveer 10,6 m onder die water naby Herring Cove-strand toe die reuse soogdier hom in ontbyt wou verander.
Packard vertel hy het aanvanklik gedink hy is deur ‘n groot witdoodhaai ingesluk en dat sy einde aangebreek het.
“Ek was heeltemal binne-in die bultrugwalvis se bek. Dit was stikdonker. Ek het vir myself gesê: ‘Daar is geen manier dat ek hier uitkom nie. Ek is klaar, ek is dood.’ Al waaraan ek kon dink, is my seuns, hulle is 12 en 15 jaar oud.”

Toe hy besef het hy voel geen tande nie, het hy begin beweeg en kon hy voel hoe die walvis sy kop skud. Binne 40 sekondes is Packard in die water teruggespoeg.
“My eerste gedagte was dat ek nie kon glo dat ek uit dié situasie gekom het nie.”
Josia Mayo, wat saam met Packard op die boot was, het gesien hoe die water in die lug gespuit word soos wat die walvis Packard uitgespoeg het.
Hy het met Packard hospitaal toe gejaag om vir skade aan die sagteweefsel aan sy been behandel te word.
Packard sê hy voel piekfyn ná die voorval.



