KWAZULU-NATAL. – Twee operateurs van ‘n insleepdiens vir swaar voertuie, wat op 7 Junie 2021 besig was om ’n gebreekte trok voor te berei om ingesleep te word, het omgekom nadat ’n aankomende trok teen hulle trok gebots het.
LEES OOK: Sekstorsie en kubermisdaad op jou foon – Mike Bolhuis gee raad
Fratsongeluk
Die twee mans was besig om die trok op die N2 Suid net na die Umhlanga-kruising voor te berei sodat hulle hom kon wegsleep, toe ’n trok, wat suikerriet vervoer, in die gebreekte trok vasgery het.
Die krag van die botsing het die twee mans in die wrak vasgepen.
Op toneel dood verklaar
Willem Niewenhuis (60) en sy kollega, Big Mike, wat albei by Always Towing werksaam was en onderskeidelik 18 en 17 jaar ondervinding gehad het, is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Addisionele swaarinsleepdienste moes hulp verleen om die twee mans se liggame te bevry.
Familie se harte gebreek
Alida Ackerman, Willem se dogter, sê die familie se harte is gebreek.
“My pa het ’n passie vir sy werk gehad. Hy sou sonder twyfel enige tyd van die dag of nag uitgaan wanneer hy gebel was. Hy het so ‘n paar jaar gelede ’n beroerte onder sy trok gehad, maar hy het mooi herstel.”
Willem word oorleef deur sy vrou, sy kinders, skoonseun, drie stiefkinders en 11 kleinkinders.





