SPRINGBOK. – Advokaat William Booth en Basil “Jaguar” Kock het mekaar in die hof aangevat. Dis nie vreemd as humeure tydens hofsittings opvlam nie.
Wanneer die vonke egter van die begin tot die einde soos vuur spat, dan klink dit raar. Dit is presies wat verlede week in die landdroshof op Springbok gebeur het tydens drie vermeende dwelm-merts se borgtogaansoeke.
Drie Nigeriese verdagtes, Christian “Mystical” Onovho, Nduko Basil Eke en Joseph Chukwubuka staan sedert 8 April tereg op klagtes van dwelmhandel en die verspreiding daarvan. Hulle is ‘n sindikaat van 11, volgens die staat. Hulle doen sedert die eerste verskyning vir borgtog aansoek.
William Booth vs Basil Kock
Die vuurvonke het behoorlik gespat tussen die staatsaanklaer, Basil “Jaguar” Kock en advokaat William Booth, hulle regsverteenwoordiger. Veral toe Kock die staat se hoofgetuie ondervra het.
Landdros, Fiona Hess(v), het haar hande vol gehad om die twee uit mekaar te hou. Soms het dit gelyk asof sy moedeloos vir Kock geword het. Ander tye het sy van Kock se vrae aan die staatsgetuie summier
van die hand gewys. Of dit nie toegelaat nie. Booth het verder olie op die vuur gegooi deur Kock se manier van
kruisondervraging te betwyfel. Hy het telkemale opgespring en van Kock se punte betwis. Hy het vurig gesê: “Die staatsaanklaer hou nie by die vorige beslissing van die hof nie. Ek het dit nog nooit in ‘n hof beleef nie. Dit lyk asof my my kollega (Kock) fokus verloor het.”
Kon ook nie ooreenkom oor datum
Kock was egter baie koel en bedaard en het geargumenteer dat hy net besig was om oor sekere punte duidelikheid te kry. Die staat en verdediging kon ook nie oor ‘n nuwe hofdatum ooreen kom nie.
Die hof het toe vir ‘n paar minute verdaag sodat Hess met haar seniors kon beraadslag. Toe sy die hofsaal verlaat, was Booth en die hoofgetuie weer in mekaar se hare. Beide het mekaar vertel wat hulle van mekaar vorentoe kan verwag. Hieroor was die hofgangers stom geslaan.
Toe die hofsitting weer begin, het Booth voorgestel dat ‘n nuwe hofdatum op 10/11 Junie gaan wees. Hoewel die staat hieroor verskil het, het die hof sy voorstel aanvaar.
Hoofstaatsgetuie sal met verlof in die hof móét wees
Vroeër die oggend het die staatsgetuie en staatsaanklaer ook hewig vasgesit met Hess oor hoe sy die saak so ver hanteer het. Dit was ook so aan haar gestel en op rekord geplaas.
Die hoofstaatsgetuie het aan die hof vertel dat hy reeds lankal sy verlof ingestel het en nie gou weer die verrigtinge sal kan bywoon nie. Hess het egter gelas dat hy op die 10/11de Junie in die hof móét
wees. Hulle (staatsgetuie en staatsaanklaer) glo nou dat Booth haar heeltyd ongesiens geboelie het weens sy bekendheid.
Booth tree in opdrag van Ben van Zyl (prokureur) op vir die verdagtes.
* Na die hofsitting het Booth aan die verslaggewer vertel dat hy nie gelukkig is met die gebeure binne die hof nie. Ook was hy nie beïndruk met die tekort aan landdroste en die beperkte hofsale nie.
Intussen was lede van die publiek woedend oor Woensdag se gebeure. Baie glo dat die landdros moontlik versigtig is vir Booth weens sy naam. Daar is sprake dat hulle ‘n plakkaatoptog sal reël vir die 10/11de Junie.
*Booth het op 9 April 2020 ‘n aanslag op sy lewe oorleef toe daar op hom geskiet is by sy huis in Higgovale in die Kaap.
Lees ook: Petrus hou emosionele onderhoud met Brendin se ma voor hofverskyning




