GAUTENG. – Wyle Yolandi Botes (35), wie se liggaam op 4 Mei opgespoor is nadat sy in April verdwyn het en wreed vermoor is, het glo haar kuier met haar dogters net voor haar verdwyning oor WhatsApp gekanselleer.
LEES OOK: Vrou deur broer se hond verskeur
Kanselleer kort na landing
Botes het glo kort na haar landing op OR Tambo vanaf George aan haar middelste dogter oor WhatsApp gesê sy gaan net vinnig na Boksburg en dan gaan sy kom kuier.
Meer as ’n uur later, volgens die skermgreep van die boodskappe wat op die Facebook-groep, Murder she wrote, geplaas is, het sy weer laat weet dat haar planne nie uitgewerk het nie en dat sy dit nie daardie dag sou maak nie. Sy het wel gesê sy sal die kuier vir die volgende dag beplan. Sy het ook aan haar dogter gesê sy gaan na ’n oord en dat hulle, wanneer sy daar is, ander reëlings sal tref. Sy het egter daarna verdwyn.
Sy is glo deur ’n Uber-huurmotor na die Square-inkopiesentrum in Boksburg geneem, waarna sy in ’n ander motor geklim het. Haar selfoon was daarna af en die sein kon nie weer opgespoor word nie.
Botes se opgekapte liggaam is slegs agt dae later in die Vaalrivier gevind.
LEES OOK: Ma kry 20 biologiese babas in een jaar
Bloeduitslae nog uitstaande
Die bloeduitslae van die gastekamer in Kempton Park is steeds uitstaande en daar kan steeds nie bevestig word of dit enige verband met Botes se moord het nie.
Oorspronklike skermgreep deur Huisgenoot gepubliseer. Die volledige artikel kan ook in Huisgenoot gelees word.




