PRETORIA. – Hjalmar Rall het sy honneursgraad in fisika aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Sy finale punt is 82% en hy beoog om in minder as twee jaar sy meestersgraad in kwantuminligtingsteorie aan die Universiteit Stellenbosch te voltooi.
Heinrich Rall, Hjalmar se pa, sê sy medestudente weet nog nie hoe oud hy is nie, hulle wag tot dié leerlinge self agterkom hoeveel jonger hy as hulle is.
Maroela Media berig die 14-jarige Hjalmar het in 2017 met sy fisikagraad begin. Hy het dié graad aan die einde van 2019 met lof geslaag.
Heinrich sê sy seun was van ‘n jong ouderdom af baie begaafd en het hy in gr. 5 al geïrriteerd geraak met die pas waarteen die werk op skool behandel word. Heinrich het toe besluit om hom tuis te onderrig.
Hjalmar vertel aan Maroela Media dat hy ongeveer 10 uur van sy dag aan sy studies bestee en dat hy in sy vrye tyd lees of na musiek luister. Hy sê ook dit is vir hom eintlik ‘n plesier om te leer; sy studie is vir hom ook soos ‘n stokperdjie.
Hjalmar beplan ook glo om sy doktorsgraad te voltooi en as navorser in sy rigting te werk. Hy droom om eendag by een van die groot universiteite in Duitsland of Amerika klas te gee.



