Hofmeyr daag Malema uit vir volgende BoxOp-geveg

Deel hierdie storie / Share this story

Devon Hofmeyr het Julius Malema op Facebook uitgedaag vir die volgende BoxOp-geveg.

Dit volg op die afgelope naweek se opspraakwekkende boksgeveg tussen rocker Francois van Coke en oud-Bok Derick Hougaard.

Van Coke en Hougaard het mekaar op Twitter uitgedaag vir dié geveg en beide het hard geoefen. Van Coke het die geveg met punte gewen. Hofmeyr sê dit was vir hom interessant om te sien wat dié twee in ‘n kryt gedoen het. “Ek het gelukkig al my ondersteuning aan Francois gegee.”

“Julius het in ‘n stadium gesê: ‘We’ll meet them toe to toe.’ Hierdie mag dalk ‘n kans vir hom wees,” sê Hofmeyr.

“Facebook laat my drie dae vroeër uit die tronk.. Ek het 57 dae gesit, omdat ek julle bietjie meer oor die Bittereinders verduidelik het. Daar het baie in hierdie 57 dae gebeur.

Ek skop sommer af met ‘n uitdaging. ‘n Vriend van my uit die Oos-Kaap stuur hierdie vir my. Ek het net een versoek. Mag ek dit met een hand doen?”

Hofmeyr sê hy het tot dusver nog geen antwoord van Malema gekry nie en hy glo ook nie hy sal nie.

Oor of hy dink Malema enige ondervinding in die bokskryt het, sê hy: “Nee. Ek dink nie hy het veel ondervinding in te veel goed nie. Nonsens praat, ja.”

Aanhangers van Hofmeyr het kommentaar gelewer en gesê hulle sou graag dié geveg wou sien en dat hulle sal betaal om dit te ervaar.

“Al moes ek dit met een hand doen, sou ek nog steeds nie bang wees nie.”