President Cyril Ramaphosa het Sondagaand in sy “familievergadering” met Suid-Afrika weer veranderinge aan die inperkingsmaatreëls gemaak.
“In die laaste sewe dae is ‘n gemiddeld van 3 745 nuwe gevalle per dag aangemeld en die derde vlaag van die virus is op pad.”
Ramaphosa het gesê dat die gebrek aan sosiale distansiëring by begrafnisse, kampe en sportaktiwiteite en ander byeenkomste, Suid-Afrikaners wat minder maskers dra en hulle hande minder saniteer, die rede is vir die styging in Covid-19-gevalle.
Hy het verder gesê verdere maatreëls is nou nodig om die verspreiding van die virus te probeer voorkom.
Hy het aangekondig Suid-Afrika sal na aangepaste vlak 2 van inperking skuif. Dié vlak sal amptelik om Sondag middernag in werking tree.
Die aandklokreël sal van 23:00 tot 04:00 ingestel word.
Restaurante, kroeë en gimnasiums moet 22:00 toemaak.
‘n Maksimum van 100 mense sal by binnenshuise byeenkomste toegelaat word, en 250 buite.
‘n Maksimum van 100 mense mag begrafnisse bywoon en byeenkomste ná die begrafnisse word nie toegelaat nie.
Verder het Ramaphosa beklemtoon hoe belangrik dit is om steeds jou masker te dra, jou hande te saniteer, sosiale distansiëring te handhaaf en vir 10 dae te isoleer as jy in kontak was met iemand wat positief getoets het vir die virus.



