Hierdie besonderse reeks boeke bring hulde aan inspirerende vrouehelde, baanbrekers en vaandeldraers. Die vier boeke bevat die verhale van ’n dosyn vroue wat verdien om geprys te word. Wendy Maartens, skrywer en samesteller van gewilde boeke soos Sprokies en ander gunstelingstories, Die mooiste dierestories, Eendag op ’n reëndag, Vertel vir my ’n storie, Waarom Kameelperd se nek so lank is en ander dierestories, en Towertapyt, gedenk saam met Linki Brand, ’n bekende en geliefde Afrikaanse illustreerder wat in Noorweë woon saam met haar gesin, die onblusbare gees, durf en waagmoed van plaaslike vroue wat elkeen op haar eie manier uitstyg, ’n verskil maak en ander bemagtig.
Drie vroue se verhale word per boek vertel. Ingrid Jonker, Thuli Madonsela en Grizelda Grootboom se verhale word in die eerste boek vertel. Dan volg Caster Semenya, Zulaikha Patel en Saray Khumalo se stories in ’n daaropvolgende boek. Esther Mahlangu, Vanessa Govender en Elsje Neethling verskyn saam in ’n derde boek. Boek vier dra trots aan die name van Zolani Mahola, Maggie Jooste en Suna Venter. Indien van hierdie name vir jou onbekend is, sal jy sommer baie baat vind daarby om ook hierdie uitsonderlike boeke te lees, al word dit voorgeskryf vir kinders elf jaar en ouer en is dit ideaal vir gebruik in die klaskamer. Elke sagtebandboek beslaan 64 bladsye. Die illustrasies en teks is kleurvol en helder en komplimenteer die interessante bladuitleg. Die verhale word in ’n gemaklike geselstrant weergegee sodat die feitelike inligting maklik verteer en die maksimum impak maak.
Die twaalf vroue se verhale herinner lesers daaraan dat enigiemand die wêreld kan verander. Dit maak nie saak wat jou omstandighede is nie, jy kan bo uitkom en jy kan vir ander tot inspirasie wees. “Die digter Ingrid Jonker woeker met haar talent.” Thuli Madonsela het groot hoogtes bereik deurdat sy die vorige Openbare Beskermer was. Grizelda Grootboom was die slagoffer van mensehandel. Saray Khumalo is ’n motiveringspreker en bergklimmer. Só het elke vrou ’n stem en ’n verhaal wat werd is om vertel te word.
Vanessa Govender, ’n voormalige joernalis het byvoorbeeld haar storie van hoop ná mishandeling vertel, want “Jy kan ook uit die skaduwees van skaamte en vrees na die lig toe stap. Niemand behalwe jy kan jou waarde bepaal nie. Jou stem is die beste wapen wat jy ooit sal besit. Gebruik dit! Doen dit nou!”
Lapa Uitgewers publiseer Vaandeldraers: Vrouehelde van Suid-Afrika.Koop die lieflike boeke aanlyn of by toonaangewende boekwinkels apart of in ’n pragtige bokspak.



