Kabelkarongeluk eis talle lewens

Deel hierdie storie / Share this story

ITALIË.- ‘n Kabelkar het die lewens van 14 mense geëis toe dit teen die kant van ‘n berg te pletter geval het. Twee kinders is ernstig in die voorval beseer en is per helikopter na ‘n pediatriese hospitaal geneem. Een van die kinders het daar aan sy/haar beserings beswyk.

Volgens DW is die kabelkarrit van 20 minute baie gewild onder toeriste. Dit verbind die oord, Stresa, met die berg Mottarone op die 1 500 meter merk. Die piek kyk uit oor die Maggiore-meer en bied ‘n pragtige uitsig oor die Alpe.

Owerhede sê sommige van die slagoffers is in die kabelkar vasgekeer, terwyl ander tussen die bome beland het. Foto’s wys hoe die verpletterde kabelkar in ‘n bewoude gebied teen ‘n steil helling lê.

Die DW-korrespondent Seema Gupta berig die ongeluk is moontlik deur ‘n gebreekte trekkabel veroorsaak.

Walter Milan, woordvoerder van die Alpynse reddingsdiens, sê die kabelkar het van ‘n hoë punt van die rit af geval. Dit het die grond aan die voet van ‘n woud getref. Die Italiaanse president, Sergio Mattarella, en die eerste minister, Mario Draghi, het hul “diep hartseer” betuig in hul medelye met die families van die slagoffers.

Na wat verneem word, is die kabellyn in 2016 opgeknap en het dit verlede maand eers weer weens die Covid-19-pandemie oopgemaak.

Lees ook: China se troeteldier-raaiselboks veroorsaak opskudding