Yolandi Botes se man glo van roudiens ontneem

Deel hierdie storie / Share this story

BRAKPAN. – Wyle Yolandi Botes (35), wie se liggaam op 4 Mei opgespoor is nadat sy in April verdwyn het en wreed vermoor is, se roudiens het vandag in Brakpan plaasgevind. Haar man, Wietzue Botes, beweer dat hy van haar roudiens ontneem is.

LEES OOK: Onopgelos: Vrou in boom opgehang

In twee inskrywings op sy Facebook-blad, het Botes gesê hy is daarvan ontneem om sy vrou vandag finaal te kon groet.

“Ek wil net dankie sê aan elkeen wat valse beskuldigings na my toe geslinger het. Julle is die rede dat ek nie vandag my vrou kon groet nie. Dat ek my vrou moet groet op ’n live stream. Hoop julle is happy.”

’n Uur later het hy weer ’n plasing gemaak.

“Ek sal julle nooit vergewe nie, julle weet nie wat julle vandag van my gesteel het nie.”

Dit is tans nog onduidelik wie die persone was en wat die rede was hoekom hy nie die roudiens bygewoon het nie.

Motorfietsryers maak geraas vir Yolandi

Na die roudiens het motorfietsryers in Brakpan bymekaargekom en hulle motorfietse ge“rev”, met hulle valhelms in die lug, ter ere van Yolandi.

Kuier by kinders glo gekanselleer

Yolandi se eks-man, wat anoniem wil bly, het aan Huisgenoot gesê Yolandi het glo reg voor haar verdwyning op die nippertjie haar kuier met haar kinders gekanselleer omdat sy ’n “vergadering” gehad het.

“Die Maandagoggend het sy op die nippertjie gekanselleer. Sy was reeds in Johannesburg, maar om 11:30 het sy laat weet sy het ’n vergadering; sy gaan dit nie maak nie,” het hy aan Huisgenoot vertel.

Hy beweer ook glo dat sy gereeld planne gemaak het om die kinders te sien, maar eintlik net ongeveer een keer per jaar opgedaag het.

Yolandi se man, Wietzue, het dit ontken en glo sy sou nie haar planne met die kinders kanselleer nie.

Beweerde sekswerker

Selfs Yolandi se familie is in hierdie stadium onseker oor hoe Yolandi ’n inkomste verdien het. Volgens hulle was sy ’n huisvrou.

Drie vriendinne, sowel as ’n vriend, het aan Huisgenoot beweer Yolandi was ’n sekswerker en ontkleedanseres wat met die verkeerde mense deurmekaargeraak het. Wietzue het ontken sy vrou was ’n sekswerker.

Geen antwoorde op bebloede kamer

Die polisie het steeds nie die DNS-uitslae van die bebloede kamer in Kemptonpark ontvang nie, dus kon daar nog nie bevestig word of Yolandi se moord met die kamer verbind kan word nie.

LEES OOK: Verbrande liggaam van onbekende man gevind