Vrou speel jare dieselfde nommers, wen uiteindelik Powerball-boerpot

Deel hierdie storie / Share this story

RICHARDSBAAI. – ‘n Vrou van Richardsbaai het, met dieselfde nommers waarmee sy al jare speel, die Powerball-boerpot van R56 miljoen gewen.

Ithuba het Woensdag in ‘n verklaring gesê die vrou, wie se naam nie bekendgemaak word nie, het op 4 Mei ‘n kaartjie van R7,50 vir die wenbedrag van R112 miljoen gekoop.

Sy het aanvanklik nie besef dat sy een van twee gelukkige wenners is nie, totdat daar in die koerant berig is dat die lotery wag vir die wenner om na vore te kom.

Kry jou Lotto-nommers hier.

“Ek was nie daarvan bewus dat ek gewen het tot ek in ‘n koerantberig gelees het dat een van die wenners gesoek word nie,” het die vrou gesê. “Tot my verbasing was ek die gelukkige wenner. En dit was op presies dieselfde dag as wat my man verlede jaar gesterf het.”

Sy was een van twee wenners en het R56 miljoen in die sak gesteek.

Die vrou, wat die kaartjie by ‘n plaaslike winkel vir droëvrugte en neute gekoop het, sê sy beplan nie om enigiemand anders as haar seun en sy vrou te vertel dat sy ‘n miljoenêr is nie.

Sy beplan om haar seun en sy vrou te help om ‘n nuwe huis en ‘n nuwe motor te koop, haar beste vriendin uit haar finansiële penarie te help en ook finansieel na haar ma om te sien.

Kry jou Lotto-nommers hier.

“Ek is reeds geseënd genoeg om alles te hê wat ek nodig het.”