JOHANNESBURG.- ‘n 28-jarige vrou is gearresteer nadat sy glo Woensdagaand op Facebook vertel het sy is gekaap en agter in ‘n motor se kattebak ingeprop. Die vrou het sosialemediagebruikers met die vals berig op hol gehad.
Volgens IOL het die vrou talle boodskappe op Facebook geplaas waarin sy sê sy gaan enige oomblik verkrag word. Duisende bekommerde mense het die plasing op Facebook gedeel.
Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê die 28-jarige vrou word aangekla van meineed, bedrog en regsverydeling vir die opening van ‘n vals kapingsaak in die Protea Glen-polisiekantoor in Soweto.
Sy het later glo aan die polisie erken sy is nooit gekaap of ontvoer nie.
Lees ook: Sol Plaatje-universiteit op waarskuwingsvlak 3
Sy het sosiale media op hoogte gehou van die vals kaping
In ‘n verklaring aan die polisie het die vrou vertel hoe sy Woensdagaand deur onbekende mans gekaap is. Sy is toe glo in haar Toyota Corrolla se kattebak inforseer. Sy beweer sy moes die grootste deel van die aand daar deurbring terwyl die mans met haar voertuig rondgery het.
‘n Span onder leiding van genl.-maj. Fred Kekana, distrikskommissaris van die Wes-Rand, bestaande uit senior speurders, lede van misdaadintelligensie en ander polisie-reaksie-eenhede, het dwarsdeur die nag gewerk om die “gekaapte vrou” op te spoor. Hulle het vinnig teenstrydighede in die vermeende slagoffer se verklaring gevind.
Die vrou is gearresteer en haar motor en twee fone is gekonfiskeer.
Boodskappe wat die vrou op Facebook geplaas het, lui as volg: “Ek is pas gekaap. Ek is in die kattebak van my motor. Hulle het my ander foon gevat en gedink ek het net een. Ek sal julle op hoogte hou totdat ek nie meer is nie, ‘het sy gepos en haar ligging aangedui as Mohlakeng, ‘n gemeenskap in Randfontein, Wes-Rand.
In ‘n ander plasing het sy gesê: “Die motor het nou gestop en hulle baklei wie gaan seks hê met my.” Verder het sy tot haar motor se registrasienommer op Facebook gedeel.



