KAAPSTAD.- Vierhonderd mense van Lotusrivier het Woensdag vir werk by die City of Cape Town se kantore opgedaag. Die mense se moed het in hul skoene gesak toe hul uitvind dit was ‘n vals advertensie vir werk wat op sosiale media geadverteer is.
Volgens IOL sê Patricia van der Ross, raadslid van Lotusrivier, sy was verbaas toe sy by haar kantoor aankom om lang toue mense te vind wat wag om aan te meld vir ‘n projek vir die skoonmaak van kanale. “n Plasing op Facebook het daartoe gelei dat 400 mense voor die kantoor gaan staan het vir ‘n werksgeleentheid wat nie bestaan het nie.
In die plasing op Facebook word ‘n werksgeleentheid vir 200 mense adverteer en die mense word ook versoek om ‘n gesertifiseerde kopie van hulle ID saam te bring. Van der Ross sê: “Ek is Dinsdag gekontak deur inwoners wat my gevra het en ek het gesê dat ek niks hiervan weet nie en die amptenaar gekontak. Hulle het my vertel dat daar ‘n projek was waar 50 mense uitgeval het, maar dat hulle die werkers uit die databasis moes kry. ‘
Advertensie vir werk maak dat mense van vroeg al in ry staan
Woensdag het Van der Ross by haar kantoor aangekom en was geskok om al die mense voor haar kantoor te sien. “Ek het die dame voor in die ry gevra waarvoor hulle hier was en sy het vir my gesê dit was vir hierdie werksadvertensie. Dit was so hartseer om te sien dat sommige sedert 05:00 daar gestaan het. “
Van der Ross sê die skare was teleurgesteld toe hulle verneem dat daar geen werk was nie, maar sy het hulle gehelp om in die City of Cape Town se databasis te registreer.
“Daar was hele gesinne wat in die hoop gekom het om te werk. Ons het ‘n 16-jarige seun onder die skare gevind wat werk gesoek het. Omdat mense desperaat is, sal hulle enigiets glo en dit is ‘n jammerte”
“Ek het hulle gehelp om te registreer en hulle is weg. Ek vra dat mense nie vals of boodskappe soos hierdie versprei nie. Dit was verwoestend. ”
Lees ook: Klein Hanru glimlag groot na operasie



